Filippense 2:5. “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.”
Gister het ons gesels oor die gehoorsaamheid van Jesus aan sy Vader, en hoe Hy die wil van sy Vader stiptelik uitgevoer het. Ons het ook gesê, as dissipel van Jesus Christus, moet ons dieselfde tipe gehoorsaamheid in ons alledaagse lewe demonstreer.
In die gedeelte wat ons vandag gelees het, merk ons ’n ander baie belangrike aspek op wat duidelik uitkom in die lyding van Jesus, naamlik sy nederigheid. Ja, Jesus word in die proses van sy lyding ’n Lam genoem. ’n Lam wat die beeld van nederigheid dra. Paulus verwys ook na Jesus wat na die aarde toe gekom het, in ’n nederige gestalte, die gestalte van ’n slaaf. Hy het nie vasgehou aan sy goddelikheid en sy posisie by sy Vader nie. ’n Deel van sy lyding, was sy inkarnasie (menswording). Sy koms na hierdie wêreld, waar Hy die gestalte van ’n mens moes aanneem, was as sulks ’n groot lyding. Dwarsdeur sy bediening, het ons hierdie karaktereienskap van Jesus raakgesien. Die lydende kneg van God, was ’n dienaar. Hy was die een wat onder mense beweeg het om hulle te help. Hy was die een wat op ’n nederige donkie Jerusalem binne gegaan het.
As ons ernstig is om Jesus te volg, moet ons ook sy voorbeeld volg . . . dan vra dit van ons dieselfde gesindheid. Dit is waarvoor Paulus ons ook in die teksgedeelte oproep. Nederigheid en lyding is twee kante van dieselfde munt. Deur die karaktereienskap van nederigheid in ons eie lewe toe te pas, sal ons ook iets van lyding ervaar. Dis nie altyd maklik om die minste te wees nie, of om op te offer en te dien nie, maar juis as ons dit doen, wys ons Wie ons volg.
Gebed
“Jesus, Lam gely ter slagting, U oorwin vir ons die dood. Jesus, prooi van veragting, U dra self ons angs en nood. Drink die beker van verraad, word verraai deur mens, duisend maal, duisend maal. O Heer, bring ons daarvoor dank en eer.”
Amen