Gedagte vir die dag | Sondag 20 Februarie 2022

Lukas 1:30-31 “Moenie bang wees nie, Maria,” het die engel gesê, “want God het besluit om jou te seën! 31Jy sal swanger word en ’n seun hê en jy moet Hom Jesus noem.

Wanneer die jong ongetroude Maria die nuus kry dat sy swanger gaan raak en ‘n seun in die wêreld bring, moes dit vir haar ’n geweldige groot skok gewees het. Die engel het toe ook nog bygevoeg dat haar baba die Seun van God is. Toe sy by die engel wou weet hoe dit hoegenaamd moontlik is dat sy swanger kan raak, sê die engel dat niks vir God onmoontlik is nie. Maria het seker gewonder of haar verloofde en die mense van Nasaret hierdie vergesogte nuus sou glo. Tog is Maria onmiddelik bereid om God se opdrag uit te voer en stel sy haarself volkome tot beskikking van God.

Soms kry jy ook ‘n opdrag van God wat vir jou aan die begin dalk onuitvoerbaar lyk. Ontdek dan soos Maria dat niks vir God onmoontlik is nie, As jy bereid is om Hom onvoorwaardelik te vertrou en vir Hom “ja” te sê soos Maria, sal Hy jou ook in Sy koninkryk gebruik.

Gebed

Hemelse Here, maak my bereid om soos Maria onvoorwaardelik vir U ja te sê sodat die plan wat U vir my lewe het deur U uitgevoer kan word. Dankie dat ek vir seker weet dat alles vir U moontlik is. Amen.

(Geneem uit: Jy is Myne van Nina Smit)