Psalm 3:6-7: As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my. Ek is nie bang vir tienduisende mense wat van alle kante af op my toesak nie
Ons is amper klaar met die jaar en is geneig om dié tyd van die jaar saam terug te kyk oor die jaar en dit te evalueer. Dit het my aan die bekende gedig, “Voetspore”, laat dink waar iemand ’n vreemde droom gehad het waar hy en die Here langs die see loop.
Baie van julle sal die gedig goed ken. Agter hulle, kon hy duidelik twee stelle voetspore sien, syne en dié van die Here, maar tog was daar ook ‘n ontstellende verskynsel in sy droom. Op die pad agter hom, was daar soms net een ry voetspore en dit was juis tydens die tye wat dit met hom sleg gegaan het. Daarom het hy vir die Here gesê: Meester, U het my verseker dat indien ek besluit om U te volg, U altyd by my sal bly, maar nou sien ek dat in die tyd toe ek U bitter nodig gehad het, ek alleen moes loop. Daar was net een ry spore, waarom het U my dan toe in die steek gelaat?” Die Here het hom geantwoord: “My kind, ek het jou lief en jy behoort te weet dat Ek jou nooit alleen sal laat nie, dis waarom jy net een ry spore sien. In jou tye van swaarkry en beproewing het Ek jou gedra.”
Miskien as jy terugkyk oor die jaar, het jy ook iewers ’n ervaring gehad dat jy alleen geloop het. Maar as jy mooi kyk, dan sal jy besef dat die Here jou gedra het. Ek dink veral aan Jesus se woorde tydens die bergrede. Dit het seker teen die meeste van sy dissipels se gryn ingegaan. Matteus 5:41: “As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer.” ’n Mens kan vir Petrus in sy baard hoor brom toe hy aan die soldate van die Romeinse owerheid gedink het. Dit was mos algemeen bekend dat ’n Romeinse soldaat enige inwoner van ’n besette land kon verplig om sy militêre bagasie vir ’n duisend tree te dra terwyl hy deur die land reis. Vir elke Jood was dit ‘n vernederende opdrag.
Wat het dan van Moses se wet van ’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand geword? Maar eintlik wou Jesus vir hulle sê: “Moenie soos ’n slaaf gevul met wrede gedagtes die verpligte afstand loop nie. Doen dit blymoedig en loop selfs verder as wat van jou gevra word.” Later het Jesus die hele lydensweg geloop tot die laaste tree na Golgota, en dit alles net om ons las ligter te maak. Jesus het selfs verder gegaan as om die twee kilometer te loop. Hy het my en jou bagasie op sy skouers geneem. Mag jy dit in hierdie Kerstyd op ‘n besondere manier ondervind, ook wanneer jy oor die jaar terugkyk.
Gebed
Here, soms struikel ons deur die sand of die modder, of die moeilike terrein. Dankie dat U al ons laste, of bagasie wil help dra. Dankie dat U ons in, en deur moeilike tye nie net aan die hand vashou nie, maar ook dra. Amen.