1 Timoteus 6:11. “Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid. In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal.”
Vers 18: “Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. So vergader hulle vir hulle ‘n skat as ‘n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry. Timoteus, bewaar wat aan jou toevertrou is. Vermy die onheilige en sinlose praatjies en die redenasies van die ‘kennis’, soos dit verkeerdelik genoem word.”
Ek het die afgelope tyd in my voorbereiding van die dagstukke weer in Timoteus gaan lees oor Paulus se goeie raad aan hom om ’n sinvolle en betekenisvolle lewe te lei. Paulus het vir hom gesê hoekom dit belangrik is om met vrygewigheid en mededeelsaamheid te lewe.
In die lees daarvan het ek raakgelees wat onder andere Jullian Miller oor Albert Einstein geskryf het: “Einstein het die grootste gedeel van sy lewe klas gegee by die Universiteit van Princeton en daar het hy blykbaar daardie bekende realiteitsteorie ontwikkel. Die vreemde is dat ons by Princeton Universiteit geen gedenkteken, of museum, of monument sal raakloop wat eer aan dié groot geleerde bewys nie. Blykbaar was Einstein gekant teen enige vorm van verering en hy wou nie die kollig op homself plaas nie. Die afwesigheid van monumente of standbeelde van Einstein by die Universiteit van Princeton vertel ’n belangrike storie. Dit kommunikeer iets van Einstein as mens, maar ook iets van die Universiteitsgemeenskap en die respek wat hulle vir Einstein gehad het.
Daar is inderdaad baie ander manière om iemand se nalatingskap te bewaar. Na Einstein sal die wetenskap nooit weer presies dieselfde wees, of op dieselfde manier beoefen word nie. Sy geniale werk is sy monument. Ons dink baie keer aan ons nalatenskap na, en dit het my laat nadink oor wat Paulus vir Timoteus sê, maar spesifiek dan oor dinge wat van Einstein gesê word, want ware grootheid, is nie selfgerig nie. Iemand wat werklik ’n groot bydrae tot die samelewing, of sy gesin, of uitgebreide familie lewer, wil gewoonlik nie eerbewyse daarvoor ontvang nie. Die geskiedenis het dit oor en oor bewys. Mag ek en jy die genade kry om in nederigheid te leef sodat ons nie self gerig sal wees nie, want dit is wat Christus vir ons gedoen het, om sy lewe vir ons af te lê.
Gebed:
Here, gee vir ons die genade, om nie altyd in die middel te wil staan nie, maar om diensbaar of nederig te wees en om sodoende iets groters na te laat. Dit wat ons gedoen het. Gee vir ons daardie genade, insig en nederigheid.
Amen