Jesaja 55:6. Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is.
Toe Jesaja hierdie woorde gespreek het, het hy dit in die konteks gedoen van God wat Homself op soveel praktiese wyses aan Israel openbaar het, en hoe die volk dit nie aangegryp het nie. Die gedeelte begin met die woorde: “Kom almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook die wat nie geld het nie, kom, koop en eet”. Kan ’n mens so hardkoppig wees dat jy nie op so ’n uitnodiging reageer nie? Die antwoord is, ja! In dié gedeelte waarsku die Here dat sy gedagtes nie soos ons gedagtes en optrede is nie. Dit is nie vir ons maklik om van ons gevestigde weë en maniere afstand te doen nie. Net soos Job sal ons partykeer eerder sterf as om te moet verander.
Vandag se teks bring ons voor die uitdaging dat die Here ons na mense, plekke, denkwyses en perspektiewe toe lei wat ons nie self sou uitkies het nie. Voor watter geleenthede bring die Here jou vandag? Vra daarin na die Here se wil. Laat toe dat God dan jou gevestigde denke en perspektiewe aanspreek. Beleef dat die Here jou verras deur jou iets nuut en mooi te wys.
Gebed
Doen slegs u wil Heer, u wil met my. U, Pottebakker met my die klei. Vorm my en maak my, net soos U wil. Op U bly wag ek nederig en stil. Amen.