Kolossense 1:9-10. Ons vra God dat julle, deur al die wysheid en insig wat God gee, tot volle kennis kan kom van wat sy wil is. Ons bid dat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God.
Die kennis wat ons deur die lewe opdoen help ons vandag om besluite te neem. Ons kennis is egter beperk en daarom nader ons kundiges wanneer ons dit nodig ag. Ons raadpleeg ’n dokter as dit by siekte kom, ’n finansiële adviseur as dit met geld te doen het en ’n werktuigkundige as iets aan jou motor gebreek het. Alhoewel ons kennis beperk is, het ons almal egter toegang tot wysheid, want dit is iets wat God aan ons almal bied. Wysheid is ’n dieper insig in die voorhandliggende en help ons om God se wil op ’n totaal ander en verrassende manier raak te sien. Laat toe dat die Here jou ook weer vandag verder as die voorhandliggende neem om die dieper betekenis van gebeure en mense te ontdek. Mag dit jou vandag help om jou besluite so aan te pas dat dit wat jy doen vrugte sal dra.
Gebed
Here, ons neem elke liewe dag soveel besluite en daar gebeur elke dag soveel goed wat ’n impak maak op hoe ons kies. Dankie dat u Gees by ons is om ons hierin te begelei en te keer dat ons nie selfsugtig of bevooroordeeld optree nie. Om te help dat ons emosies nie die oorhand neem nie en ons nie oorhaastig en impulsief reageer nie. Bring deur U Gees vandag in my die rustigheid om dinge in perspektief te sien en dié sake te sien wat dieper daaragter verskuil lê. Dankie dat U in ons ’n begrip en fyn aanvoeling bring wat vir hierdie dag nodig is. AMEN.