Hebreërs 13:5. Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”
Ons hantering van geld en ons hele ingesteldheid teenoor geld is ’n belangrike faset van ons lewe as begenadigde kinders van God. Wat sê die Here hier vir ons oor geld? Twee opdragte: Hou julle lewe vry van geldgierigheid en wees tevrede met wat julle het.
Hou julle lewe vry van geldgierigheid. Iemand wat geldgierig is, is behep met geld.
So ’n mens se gedagtegang is die heeltyd op geld gefokus en die persoon praat dan ook kort-kort van geld. So ’n mens is gedurig besig met planne om geld te maak. Die term wat hier in vers 5 gebruik word, praat letterlik van om geld lief te hê. Ons moenie geldliefhebbers wees nie, is dus wat hier staan. Natuurlik kan ons geld nie vermy nie. Dis deel van die werklikheid waarbinne ons lewe. Maar die dag wanneer geld vir jou ’n kwessie begin word, wanneer dit jou begin pla, wanneer jy jouself nie kan keer om kort-kort sommetjies te maak en berekenings te doen nie en wanneer jy geld begin liefkry, dan het jy ’n grens oorgesteek wat nie pas by ’n Christen se lewenstyl nie.
Ons lewens moet vry van geldgierigheid wees. Ons hele manier van lewe moet wys dat geld nie die belangrikste ding in ons lewens is nie.
Die tweede deel van die vers sê: En wees tevrede met wat julle het. Ons het nie almal ewe veel geld nie. Ook in geld en besittings is daar onder die kinders van die Here ’n wye verskeidenheid. Daar’s kinders van die Here vir wie Hy baie gee waarmee hulle Hom en hulle naaste dan moet dien. Daar’s baie van sy kinders wat ’n gemiddelde inkomste het. En dan‘s daar ook van sy kinders vir wie Hy dit oplê om met minder te moet regkom. Maar ons moet almal tevrede wees met wat die Here vir ons uitdeel. Tevrede wees beteken dat jy dit wat jy het, as genoeg beskou.
Maar om ons te help om hierdie opdragte te gehoorsaam, gee die Here vir ons ’n belofte ook. Die Here belowe: Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie. Ons hoef dus nie angstig te word oor hoeveel ons moet hê nie. Ons hoef nie nagte wakker te lê oor wat op finansiële gebied van ons gaan word nie. Ons hoef nie, om watter rede ook al, geldbehep te raak nie. Die Here is ook in ons geldsake by ons!
GEBED
Here, ek wil vandag kom dankie sê dat ek genoeg het om van te lewe. Weerhou my daarvan om al meer en meer te wil hê.
Amen