Gedagte vir die dag | Sondag 18 Julie 2021

Habakuk 3:17-19: “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.”

Ons het  reeds in die afgelope paar dae genoem dat uitbundige vreugde en blydskap dikwels deur musiek uitgedruk word. Dink maar net aan die groot musiekskrywers van alle eeue, Beethoven, Bach, en andere wat selfs simfonieë hieroor geskryf het. Die lied wat ons vandag gelees het, is baie bekend by elkeen van ons. Ons sing dit baie lekker in die kerk, en tydens ander byeenkomste. “Al sou die vyeboom nie bot nie.”

Ons wil vandag ’n oomblik stilstaan by hierdie laaste gedeelte van Habakuk 3. So bekend as gevolg van hoofsaaklik die volgende drie woorde:  “Nogtans, jubel en juig”.

Nogtans: Die “nogtans” is so belangrik deur die loop van ons lewe. Soos Habakuk en die volk van destyds kom ons by baie donker plekke in ons lewe aan. Ons sien dit in die vorige verse, (vers 16), dat Habakuk gebewe het, sy hele lyf het lam geword toe hy hierdie dinge gehoor het. Dit het hom aan sy gees gegryp. En dan, hierdie  woorde “ongeag” en “nogtans”. Nogtans – al sou die vyeboom nie bot nie, geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou alles misluk, die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie, en die beeskrale sonder beeste wees. NOGTANS, ongeag, ten spyte van die omstandighede van waar hulle, en ons is, kan iets anders gebeur. Dan die volgende twee woorde: “Nogtans, ongeag en ten spyte van, sal ons jubel en juig in God.

Wat vir my opval in hierdie teksvers, is die woord “in.” Die jubel en die juig vind plaas in verbondenheid – in die Here, in God my redder raak dit moontlik. In hierdie spesifieke noue verbintenis, tussen die persoon wat in die donker is, en die een wat sy Redder is, sy Here en God is, vind hierdie blydskap wonderwerk plaas.

Ons het al baie gepraat oor ons huidige situasie, waar ons in ’n vlak 4 van inperking is. Ons weet baie mense beleef dit baie, baie sleg met al die gepaarde gevolge. Kom ons sê dit ook vandag soos Habakuk: nogtans, ongeag, ten spyte van dit, sal ons juig en jubel in ons Here, in ons verbondenheid met Hom, want daarin weet ons lê ons waarborg van vreugde, en dit is die uitkoms van ons verdriet.

Gebed

Here, dankie weereens vir hierdie woord van vanoggend. Dankie dat ongeag en ten spyte van  alles wat ek beleef in my lewe, ek deur my verbondenheid in U kan jubel en juig. Amen.