Gedagte vir die dag | Sondag 18 April 2021

’n Gebed deur Dirkie Smit

Soms is dit die onthou wat so seer maak, Here –

Al ons gedagtes

Al ons herinneringe,

Al ons verlange,

Al ons heimwee.

 

Soms is dit die vergeet wat so seer maak –

Van die vreugdes van die lewe,

Van die gawes wat ons so mildelik ontvang,

Van seëninge, goedheid, nabyheid,

Van die reën se gesuis, die son se warmte,

Die aand se stilte, die vroeë môre se nuwe lig,

Die vergeet van stemme, gesigte, glimlagte, handdrukke, oë,

van destyds, kleintyd, opgroei, nuwe ervaringe,

eerste kere, ontdekking,

die vergeet van ontmoetings, saam-wees, geselskap, vrienskap, lag en bly-wees;

die vergeet wat ons so leeg laat, sonder klank, sonder erkentlikheid,

sonder vreugde, sodat ons so seer kry en steeds hunker na nog en weer.

 

Soms is dit die verganklikheid wat so seer maak –

Die bittere weet dat alles verby gaan, eindig is,

Dat kragte afneem  en kanse verby gaan,

Gesondheid afgetakel word, kinders grootword en weggaan,

Verhoudings verbrokkel,

Vriendskappe beeïndig word en dat die jeug nie altyd duur nie.

Ja dat die lewe self nie ewig is nie

En die droefheid wat dit alles bring.

 

Soms is dit die aanhou wat so seer maak –

Die nimmereindigende uithou,

Dat alles so dieselfde bly, sonder ophou,

Die reëlmaat, die roetine, die verveling, dieselfde elke dag,

Die sloer, die afsloof, die sinlose selfde oor en oor,

Sonder iets nuuts, sonder verrassing, sonder opwinding,

Sonder sprank;  Ja die diepe verlange na iets, na iemand, na meer.

 

Here, ons kom na U met ons heimwee –

Met ons verlange, met ons hunker, met ons droefheid,

Met ons seer.

Ontferm U tog oor ons.