Gedagte vir die dag | Sondag 17 Oktober 2021

Handelinge 1:8 “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

In Engeland het daar twee broers gewoon.  Al het hulle in een huis grootgeword was die een “goed” en die ander “sleg”.  Almal in die gemeenskap het geweet dat die verskil tussen hulle in hulle geloof in Jesus Christus gelê het.  Die een was ’n gelowige en die ander ’n ongelowige.  Een namiddag was die goeie broer met die Bybel onder sy arm op pad na een van sy vele kerklike verpligtings. Op die dieselfde oomblik het die slegte broer al slingerend en onder die invloed by die tuinhekkie ingestrompel. Toe hulle bymekaar kom staar die slegte broer sy goeie broer aan en vra met ’n sleeptong en dronkmanswysheid: “Glo jy wat in daardie Bybel staan?”

“Natuurlik” sê sy broer, “ek glo elke woord daarvan!”

“Glo jy dat die Bybel sê dat ook slegte mense gered kan word?” vra die slegte broer.

“Ja, Jesus is magtig om enigeen te red” antwoord sy broer.

“My liewe broer” sê die half besope broer met pyn in sy oë. “Ek en jy woon nou reeds 22 jaar onder dieselfde dak en jy het dit nog nooit vir my gesê nie.  As ek sulke goeie nuus gehad het en ’n slegte broer soos ek gehad het, sou ek op my knieë op stukkende bottelstukke oor die breedte van Engeland gekruip het om dit vir hom te gaan sê. En jy het dit nog nooit vir my gesê nie!”

Ons Here Jesus Christus het na sy opstanding baie seker gemaak dat sy dissipels die implikasies van sy sending na die aarde verstaan. Vele kere het Hy vir hulle en ons verduidelik: Soos die Vader my na die wêreld gestuur het om die mense te kom red en hulle na God toe te lei, so stuur ek julle!  Keer op keer het Hy dit vir hulle gesê!  En hier, pas voor sy hemelvaart is dit weer hierdie belangrike opdrag wat vir oulaas beklemtoon word: Julle sal my getuies wees!

Ek en jy is geroep om God se getuies te wees hier op aarde. Waar ons ookal kom moet ons lewe en woorde van God se genade en liefde getuig.

GEBED

Almagtige Here, maak my asseblief ’n gewillige getuie. Dat waar ek kom ek sal getuig van u liefde en genade vir alle mense.