Filippense 4:6 Julle moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend.
Daar is in elke liewe dag altyd iets waaroor ons onseker is en wat kommer in ons lewe veroorsaak. In hierdie sin het bekommernis te doen met die vrees, spanning en onrustigheid wat die onsekerheid bring. Ek is bekommerd want ek is nie fisies by my ouers of kinders om te sien hoe dit met hulle gaan nie. Ek is bekommerd oor my, of iemand anders se gesondheid want ek weet nog nie wat die dokters se prognose gaan wees nie. Ek is bekommerd want ek weet nie of ek die mas by die werk gaan opkom nie, en hoe goed ek toekomstige krisisse gaan hanteer nie. Kan jy ’n oomblik neem en dié sin in jou eie woorde voltooi … “ek is bekommerd want ek weet nie …”?
Dit is nie moontlik om van alle bekommernisse ontslae te raak asof hulle nie in jou lewe bestaan nie. Bekommernis bly in elke fase deel van ons bestaan en dis juis oor ons hantering daarvan dat Paulus in vandag se teks met ons praat. Kom ek verwoord die teks ’n bietjie anders. Moenie dat bekommernisse in jou lewe oor jou die oorhand kry nie. Wanneer dit wel jou lewe oorweldig, kanaliseer dit na jou gebede. Moenie jou ontsteltenis en onsekerheid vir God wegsteek nie – sê dit vir die Here met dieselfde intensiteit van die harteer en blydskap wat in jou leef. Wat is die woorde en emosie waarvan jou hart vandag vol is? Mag jy beleef hoe die Here se Gees vandag die warboel gedagtes wat in jou leef en emosies waarvan jou hart vol is kom bedaar en jou die krag gee om dit te hanteer.
Gebed
O Hemelse Vader, ek loof en dank U vir die vrede van die nag wat op my wag. Ek loof en dank u ook vir die lig van elke nuwe dag en vir al u goedheid en trou deur elke moment van my lewe. Here, U het my in die verlede al so geseën, laat my dan nou ook die hardheid van die hede aanvaar en dit wat my bekommer. Laat my glo dat U nie meer op my sal lê as wat ek kan dra nie. Ek bly glo dat U vir my sal sorg en dat U alle dinge vir u kinders ten goede laat meewerk.