Gedagte vir die dag | Sondag 17 Januarie 2021

Sal die Here ons vir altyd verstoot? Psalm 77

Vir die koorleier. Ter herinnering.  Van Asaf.  ’n Psalm.  “Ek roep na God om hulp, ek roep na God, want Hy sal my hoor.  In my nood soek ek hulp by die Here; ook in die nag bly my hande in gebed uitgestrek sonder om moeg te word; maar ek vind geen troos nie.  Ek dink aan God en ek sug, ek dink na en ek is verslae.  U laat my wakker lê, ontsteld en sprakeloos.  Ek dink aan vroeër dae, aan jare lank gelede.  As ek so in die nag lê en terugdink en peins, vra ek my af: “Sal die Here my vir altyd verstoot en nooit weer genade betoon nie? Het daar vir altyd ‘n einde gekom aan sy trou? Geld sy beloftes dan glad nie meer nie? Het God vergeet om medelye te hê?  Het Hy in sy toorn sy ontferming onttrek?”  En ek sê: “My grootste smart is dat die Allerhoogste nie handel soos voorheen nie.”

Dit klink soos die emosies wat mense nou beleef.  Mense is moedeloos en  het ’n gebrek aan hoop wat lei tot inkering in hulself.  Hulle eie ervaring  word in vers 4 verduidelik – mense wat wakker lê in die nag, mense wat alleen is, en geen kontak het met ander nie,  ens.   Hoekom verander dit nie?  Die twyfel aan God.  Is God so ’n tiran?  Ek kry heel dikwels hierdie indruk onder gelowiges.  Want, daar is vataliste onder ons – mense wat glo dat ons alles maar stil moet verdra, en aanvaar dat alles uit die hand van God kom.  Natuurlik kom alles uit die hand van God, maar moet ’n mens altyd stilbly? Moet ’n mens na God se kant toe glimlag as jy in jou hart gevul is met smart, is dit nie skynheiligheid nie?

Hierdie vers is deur ’n vegter/soldaat geskryf.  Nee, hy het nie sy geloof aan, en in God verloor nie.  Daarom lê hy snags op sy bed met ’n hand wat uitgesteek is na God.  Sê nou maar net God het verander?  Sê nou maar God nie meer kan help nie?  Sê nou maar net Hy het dalk vergeet om genadig te wees?  Wat as Hy ’n tiran is, en besig is om ’n klomp mense af te maai?  Indien sulke gedagtes  Godslaterlik sou gewees het,  sou dit seker nie op hierdie wyse in die Psalms geskryf gestaan het nie.   Dalk sou daar dan nie iets soos geloof bestaan het nie.

Geloof, gewone menslike geloof wat nie soms twyfel nie, kan nie in ’n mens bestaan nie.  God is nie ’n tiran nie.  Dit weet ons gelukkig nog duideliker as ons met hierdie Psalm deur die oë van Golgota lees.  Daar kan ons sien dat God meer ly, daarom verkwalik hy ons nie as ons twyfel nie en dan mag ons dit ook maar vir Hom sê.

Gebed

Here, dankie vir U wonderlike teenwoordigheid. Deur u Heilige Gees, en die gestalte waardeur U medelye gekry het aan die kruis van Golgota.  Dankie dat U ons harte ken, dat U ons gedagtes ken, en  dat U meely saam met ons.

Amen.