Jakobus 2:14.”Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red?”
Jakobus 2:14-26 is waarskynlik een van die teksgedeeltes wat nogal verwarring by gelowiges veroorsaak en dit is ook ’n teksgedeelte waarmee baie teoloë al in die verlede geworstel het. Daarom is dit ook nie vreemd om te verneem dat die Rooms-Katolieke Kerk hierdie teksgedeelte as bewys gebruik, om hulle leerstellings van geloof plus werke, te staaf nie en dat die Protestante reformasie volgend hulle interpretasie verkeerd is, wanneer hulle verkondig dat die mens alleen deur geloof in Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis geregverdig word.
Om werklik die probleem in hierdie gedeelte te verstaan moet ons bietjie verder terug blaai in die Bybel. In Romeine 3:28 staan: “dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke”. Hierdie boodskap word weer deur Paulus herhaal in Effesiërs 2:8. En natuurlik word hierdie boodskap die dryfveer van die reformasie. Dat ons nie gered word op grond van wat ons doen nie. Uit genade word ons deur die geloof alleen gered.
Maar hoe verstaan ons dan nou die teks van vandag as Jakobus sê dat geloof sonder dade is nie ware geloof nie? Die teksgedeelte in Jakobus weerspreek glad nie die gedeeltes uit Romeine en Efesiërs. Eintlik brei dit uit op die gedeeltes in Romeine en Effesiërs. Want die sogenaamde werke word ook nie in die Jakobus-teks as die bron van redding beskou nie. Nee, die geloof word steeds gesien as die manier waarop ’n mens gered word. Dit gaan dus duidelik in ons teks nie oor die feit of geloof ’n mens red aldan nie. Dit gaan eerder oor watter tipe lewe sigbaar word, na ’n mens deur Jesus Christus gered is. Dit is ’n geloof wat lewe. Geloof in Jesus transformeer ons hele lewe sodat ons nuut gemaak word en anders begin lewe. So ’n geloof word inderdaad deur ons dade bevestig.
GEBED
Here, mag my dade bevestig dat ek aan U behoort. Maak my nuut sodat mense in my lewe en dade kan sien dat ek u kind is. Amen