Gedagte vir die dag | Sondag 14 Maart 2021

Romeine 3:9:” Waarop kom dit neer? Is ons as Jode dan beter as die ander? Glad nie, want ons het al bewys dat Jode en nie-Jode almal in die mag van die sonde is. 10Daar staan immers geskrywe: ‘Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie.'”

Ek onthou die ou bekende storietjie van die dominee wat oor die sonde gepreek het, en toe vra hy: “Is hier enige een wat vanoggend hier sit wat sonder sonde is?  Daar was ’n oom wat sy hand opgesteek het. Die dominee vra hom toe: “Is oom sonder sonde?” Die oom antwoord toe: “Nee dominee, ek steek my hand op namens my vrou se oorlede man.”

Sonde is ’n ding waaroor ons gewoonlik praat, maar dis nie ’n gewilde onderwerp nie. Die realiteit is, ons raak dikwels gekultiveerd en gekultiveerde en gesofisitikeerde mense dink dan dikwels dat hulle niks verkeerd doen nie, want hulle lei eintlik ’n goeie lewe. Hy slaan nie sy vrou nie, en is eintlik baie ordentlik met sy kinders. Maar ons praat nooit oor dit wat ons nalaat om te doen nie.  Ons raak so gemaklik, selfsustig en gerieflik in die omgewing waar ons bly dat ons eintlik blind raak vir dit wat ons verkeerd doen, of dit wat binne in ons lê.

Robert Louis Stevenson vertel in sy verhaal van dr. Jekyll en mr. Hyde van die gerespekteerde dr. Jekyll wat ’n middel ontdek het, moontlik het julle al die fliek gesien, wat sy persoonlikheid verander en hom amper in ’n ander wese omvorm.

Geskok en tog ook gefasineerd deur sy ontdekking, gee hy toe aan die versoeking om in die nag mr. Hyde te word, wat allerlei verskriklike misdade, selfs ook moord, pleeg. En dan gedurende die dag is hy weer die gesofisitkeerde dr. Jekyll. So gaan dit ’n tyd lank aan, tot hy een oggend wakker word en tot sy onsteltenis ontdek dat hy mnr. Hyde se hand behou het. Eers was dit moeilik om Mr. Hyde se persoonlikheid aan te neem, maar algaande het dit al moeiliker geword om weer die gerespekteerde dr. Jekyll te word. Hy het terdeë besef dat hy besig was om beheer oor sy beter self te verloor en dat die slegte self die oorhand begin kry het. Toe hy later verplig was om ’n keuse tussen die twee persoonlikhede te maak, het hy besluit om dr. Jekyll te bly, ongelukkig het die geneigdheid tot misdaad sluimerend en sterker in hom geword. Die kwaad kon toe nie soos ’n baadjie aan en uitgetrek word nie, dit was binne in hom en uiteindelik het dit tot sy ondergang gelei.

Is ons dan beter as ander mense? Glad nie, sê Romeine 3, want daar is al bewys dat Jode nie en nie-Jode almal in die mag van die sonde is. Die vraag is: “Wat  ons nalaat?” En by elkeen is dit ’n persoonlike vraag wat gevra moet word. Veral in die konteks waarin ons lewe. Is dit so dat ons met deernis teenoor almal om ons, lewe? Wanneer maak jy jou hand oop? Waaraan klou jy vas? Moontlik jou sekuriteit? Die Here plaas mense om ons sodat ons, ons deernis en liefde teenoor hulle kan uitleef. Mag die Here vir ons die genade gee om nie met toe hande te leef nie.   Mag ons die genade ontvang om met oop oë te lewe en  midde in ons eie gerief en gemaksugtigheid nie te dink dat ons eintlik ver van sonde is nie, maar dat ons sal besef dat ons dikwels nalaat om goed te doen, omdat ons klappe aan ons oë het.

Gebed

Here, gee my die genade om my eie blindekol van sonde raak te sien. Maak my asseblief sensitief daarvoor.

Amen.