Gedagte vir die dag | Sondag 14 Februarie 2021

Lydensweek begin eerskomende Woensdag, met Aswoensdag en ek lees uit Romeine 8:28. “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”

Daar word vertel dat tydens die slag van Ardenne in Desember 1944 het die Amerikaanse Generaal Patton een aand soos volg gebid: “Sir, this is Patton speaking, (Ek skakel na Afrikaans oor) die laaste 14 dae was vir ons soos dae wat uit die hel gekom het met reën, sneeu, nog reën en nog sneeu.  En ek begin myself afvra wat in u hoofkwartuur verkeerd geloop het?  Aan wie se kant is U nou eintlik?” het hy vir die Here gevra.  Hy het verder in sy gebed vir die Here vertel hoe hy die gevoel kry dat God aan von Rundstedt en die Duitsers al die kanse gegee het om die Amerikaners te oorwin.

Hy sluit sy gebed af met: “Sonder u hulp is dit vir my onmoontlik om agter te kom watter taktiek die vyand toe pas, maar ek belowe om in ruil vir vier dae se goeie weer, soveel van die vyand by U af te lewer, dat u boekhouding maande agterstallig sal wees.”

Na drie dae het hy weer gebid: “Here, ek kry die indruk dat U tog baie beter op hoogte van die situasie is as ek, want dit was die slegte weer waaroor ek so luidrigtig gekla het, wat tot die vyand se ondergang gelei het.  Dit, o Here, dit was ’n troefkaart van suiwer militêre genialiteit. En ek buig my hoof nederig voor u meerderige kruisvernuf.”

Ons kan miskien nou daaroor glimlag, en dink dit was ’n vreemde versoek,  maar ons weet ook hoe mense om die Here se hulp vra en nie net tydens ’n oorlogsituasie.   Ek wil ook noem dat die tipe versoeke  dikwels ten koste van iemand anders is, of ten koste van ’n politieke of strategiese situasie en soms nie net ten koste van iemand anders nie, maar ook ten koste van ’n mens self.

Een van die aangrypendste beweringe wat Paulus ooit gemaak het, lees ons dan in Romeine.  Dis maklik om dit te lees, maar so moeilik om dit te aanvaar en daarby te berus.  “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir almal wat Hom liefhet.”  “Die wat volgens sy besluit geroep is”, in hoofstuk 8:28.  Dit is moeilik om te aanvaar en maklik om vir ander voor te sê, maar wanneer jy self in die situasie is, is dit bitter moeilik om die groter prentjie te sien.

Ons vergeet so dikwels die X-faktor om die dinge te verklaar wat met ons gebeur.  Volgens ons menslike logika sê ons 2×2= 4, en dan is dit so, sonder enige ander uitkoms.  En ons weet eintlik ten diepste dat God nie so met mense werk , soos wat ’n mens met syfers werk nie.  Daarom kan God se hand in ons lewens soms totaal anders werk.

Hy loop ’n pad saam met ons, en ek kan in my eie lewe daarvan getuig.   Elkeen van ons wat luister, kan miskien hieroor saampraat.  Oor hoe ’n mens se lewe ’n draai geloop het, en hoe dit nie uitwerk soos wat jy beplan het nie.  ’n Mens kan dit nie altyd verstaan nie.  In jou agterkop weet jy dat God alles sal uitwerk, maar eintlik stem jy nie saam met Hom oor hoe jou lewe, of hoe ’n situasie uitspeel nie.

Die Here kan jou en my en Generaal Patton se waarom-gebed in ’n oogwink na ’n dankgebed verander.   Indien daar van julle is wat in ’n situasie is waar die wiel besig is om in die verkeerde rigting te draai, bid ek dat die Here vir jou die genade sal gee om deur te druk te midde van die onverstaanbare.  Die gebeure aan die kruis was onverstaanbaar, maar vandag  kyk ons anders daarna.  Mag ons die voorreg hê om eendag te kan terugkyk na die onverstaanbare en dan te kan dankie sê oor dinge wat ons gedink het nooit sal uitwerk nie.

Gebed

Here, help ons om te berus, al verstaan ons dit nie. Om vas te hou aan die pad wat U saam met ons loop ten spyte van die feit dat ons dit nie altyd sal verstaan nie.  Juis omdat ons somme, en u somme, of ons berekeninge en u berekeninge nie altyd klop nie.

Amen.