Gedagte vir die dag | Sondag 14 Augustus 2022

 

Psalm 118:24  24 “Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.”

GEDAGTE

Die lewe is dikwels so ’n gejaag. Dit maak dat ons aandag net op doendinge of take is en dit hou ons weg van die oomblikke wat God vir ons gee. Oomblikke om in vrede en in Sy genade te leef. Een ding lei tot ’n ander en die dringende dinge verg ons aandag sodat ons nie eers meer uitkom daarby om die dae te geniet wat God ons geskenk het nie.
Ons eindig in ’n soort van oorlewings-bestaan waar ons net deur die dag probeer kom en soms die tyd om wens. Ons kan selfs by so ‘n punt kom waar ons sê dat wanneer ons hiermee klaar is, dan sal ons die lewe begin geniet.

Tog moet ons ook besef dat die lewe nie net oor môre gaan nie, maar dat dit meer oor vandag gaan en wat God wil hê ons vandag moet doen. Dat Hy juis die dag vir ons gee waaroor ons moet juig en bly wees. Om een dag op ’n slag te leef is nie altyd maklik nie, maar dit is wat God gesê het ons tog moet doen.

– Dit herinner my aan die volgende ou liedjie.
‘Moment by moment, I’m kept in His love,
Moment by moment I have life from above;
Looking to Jesus till glory doth shine;
Moment by moment, O Lord, I am Thine.’

Ons word geroep om voluit te lewe. Elke dag te waardeer wat die Here vir ons gee.

 

GEBED

Here, dankie vir elke dag wat U uit genade aan my skenk. Help my om dit voluit te leef tot U eer.  Amen