Teks gedeelte Johannes 4: Hy kom toe by ‘n dorp in Samaria met die naam Sigar, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. 6Die fontein van Jakob was daar, en Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag. 7Daar kom toe ‘n Samaritaanse vrou water haal, en Jesus vra vir haar: “Gee My ‘n bietjie water om te drink.” 8Sy dissipels was intussen weg dorp toe om te gaan kos koop. 9Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe vra jy, wat ‘n Jood is, vir my, ‘n Samaritaanse vrou, water om te drink?” Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie. 10Jesus het haar geantwoord: “As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee My ‘n bietjie water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.” 11Die vrou sê toe vir Hom: “Meneer, jy het nie eens ‘n skepding nie, en die put is diep. Waar gaan jy die lewende water vandaan kry? 12Jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie?” 13Maar Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; 14maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ‘n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.”
Water is lewe! Die Bybelse mense het dit goed verstaan. In ’n woestynklimaat word jy gereeld aan jou afhanklikheid van water herinner. Jesus ontmoet die Samaritaanse vrou by die put en skielik is die put nie net meer ’n plek nie, maar Jesus word ’n put. Hy word vir die vrou die bron van lewende water. Jesus is die fontein waaruit ons leef en die water waarna ons smag. God, wat met ons elkeen ’n pad stap, stap nie net saam nie; Hy wag reeds vir ons by die volgende put om ons te voed vir ons reis vorentoe. Hy wag nie net vir ons nie; Hy is die put, die fontein waaruit ons lewenswater drink.