Gedagte vir die dag | Sondag 13 Februarie 2022

Welkom by Sondag, 13 Februarie se oordenking vir die dag. Mag jy vanoggend ware rus vind in die teenwoordigheid van die Here.

Ons is besig om as mede-pelgrims saam te reis.  Labirinte word al vir honderde jare deur gelowiges ’n geloofsgewoonte gestap. Anders as doolhowe het labirinte ’n gedefinieerde paadjie wat die stapper na die middel van die labirint en weer daaruit lei.  Die labirint is ’n metafoor van die lewe, asook ons eie geestelike reis.  Gelowiges sien dit as ’n wandelende gebed wat vir ons die geleentheid skep om van God se teenwoordigheid bewus te word.  Die proses nooi jou na die reis na binne om jou identiteit in Christus te ontdek en te ervaar hoe die Here jou reisgenoot deur die lewe is. Vandag wandel ons saam in Psalm 127:

As die Here die huis nie bou nie, swoeg die bouers tervergeefs daaraan. As die Here oor die stad nie wag hou nie, bly die wagte tervergeefs wakker. Tervergeefs dat julle vroeg opstaan, eers laat tot rus kom, kos eet wat moeisaam verkry is. Netsowel gee Hy dit aan sy geliefdes in die slaap. Kyk, seuns is ’n erfdeel wat van die Here kom; die vrug van die moederskoot is ’n beloning. Soos pyle in die hand van ’n krygsheld, so is die seuns van jou jeug. Gelukkig is die man wat sy pylkoker met hulle gevul het. Hulle sal nie beskaamd staan wanneer hulle met vyande in die stadspoort woorde wissel nie.

 Watter emosie het die teks by jou losgemaak?

  • Skep dit opsies?
  • Bring dit hoop?
  • Maak dit vry?
  • Daag dit jou uit?
  • Gee dit rigting?

 

Gebed

Here, U is die Een wat die huis instand hou. Mag U dit bou!

Amen