Psalm 23: Die Here is my herder
1’n Psalm van Dawid. Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. 2Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. 3Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam. 4Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.
Die lewe is uitdagend. Ja, ons almal beleef tye waar die mat onder ons uitgeruk word. Ons almal gaan soms deur tye wat ons donker dieptes kan noem. Dalk gaan jy nou deur so ‘n moeilike tyd. Dan is vandag se vers juis vir jou bedoel.
Hierdie is ’n aangrypend stukkie troos “al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie” reg in die middel van die Psalm, so tussen die beloftes van voorspoed ingeskryf, asof dit die eintlike punt van die Psalm is. Hier leer Dawid ons iets van die lewe. Daar is slegte tye, tye van onsekerheid, siekte, dood, seer, vrees en dinge wat ons bang maak. Maar wat ons daardeur neem is die verhouding met ons Herder. Ons hoef nie bang te wees nie, want Hy is by ons en in sy hande is ons veilig.
Psalm 23 stel dit so mooi, dat God altyd by ons is en dat Hy ons nooit in die steek sal laat nie. Hy bly altyd by ons en ondersteun ons. Wanneer Jesus jou Herder is, hoef jy nie bang of paniekerig te voel nie, want Hy sal jou vashou, maak nie saak wat die omstandighede is nie. Plaas jou hande in jou Herder se hande. Sy beskermende liefde maak die hardste teëspoed sag en Hy gee jou weer nuwe perspektief. Al gaan dit ook hoe sleg met jou, God is met jou!
GEBED
Here, ek het U so nodig. Hierdie las is eenvoudig vir my te swaar. Ek kan nie meer nie. Help my asseblief om deur hierdie doodskaduwee pad te kom.