Haggai 1:4: “Maar nou, Serubbabel, skep moed, sê die Here, en jy Jesua seun van Josadak, hoëpriester, skep moed, en julle almal, burgers van die land, skep moed, sê die Here! Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige”.
Hierdie is ongelooflike, inspirerende woorde wat die Here tot moedelose mense, by monde van sy profeet Haggai, rig. Nadat die volk van Israel se tempel vernietig is en hulle in ballingskap weggevoer is, het hulle die taak ontvang om weer die tempel te herbou. Sommiges het begin om hard daaraan te werk, maar het spoedig spoed verloor . . . die knieë het begin lam word en het hulle gevolglik ander doelwitte begin najaag.
Die Here ag dit nodig om hulle by monde van Haggai sterk aan te spreek om voort te gaan met die werk om die tempel te herbou. Dit is baie insiggewend dat hy juis met die leiers begin praat het om hulle weer te inspireer en aan te moedig om hierdie uiters belangrike taak te voltooi.
Die woorde is gerig tot Serubbabel, die goeweneur van Juda. Serubabbel word ook beskryf as ’n dienaar van die Here en iemand wat opreg gelewe het. Maar selfs hy het begin moed opgee. Die uitdagings van die dag en die werk het vir hom net te groot begin lyk. Daarom hierdie aanmoediging om weer te fokus op dit wat vir die Here belangrik is, die opbou van die tempel as simbool van die volk se verhouding met Hom.
Vers 4 is een van daardie verse in die bybel wat ons gerus maar kan onderstreep. Dis ’n direkte oproep tot Serubabbel om moed te hou, ook Joshua, Seun van Josadak, hoëpriester, word aangemoedig om moed te skep. Nie net die leiers nie, maar ook die burgers van die land word pertinent aangemoedig om moed te skep en om weer die werk te hervat. Die troos en die aanmoediging is gesetel in die feit dat die Here by hulle is. Begin met die werk, want ek is by julle, sê die Here die almagtige.
Vriende, hoe nodig het ons nie ook die Here se aanmoediging nie? Ook daar waar ons so dikwels moed opgee wanneer alles vir ons te veel begin lyk – die verantwoordelikhede begin opstapel en dit begin voel asof ons niks daaraan kan doen nie omdat ons kragteloos is. Ook vir ons, met die verskillende vorme van opbouende werk wat ons in gemeenskappe en in ons land meot doen, geld die aangemoediging: “skep moed, want Ek is by julle.” Hierdie week dink ons aan hierdie grootste belofte dat God by ons is, langs ons is, en dat ons Hom kan vertrou om ons te bemoedig, te versterk en te help met dit wat ons moet doen.
Gebed:
Here, baie dankie vir U oproep tot ons, om moed te skep omdat U by ons is. Amen.