Eksodus 33:14-16. Toe het die Here gevra: “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?” Toe het Moses vir Hom gesê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie. Hoe sal die mense weet dat ek en u volk u goedgesindheid geniet as U nie saam met ons gaan nie? Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde.”
Daar is ‘n bekende Nederlandse spreuk wat lui: “Van het concert des levens krijgt niemand ’n program”. Dit verwoord die vanselfsprekende waarheid dat ons nie weet wat die toekoms vir ons inhou nie. Niemand weet immers wat op die lewensreis vir hulle as individue, of as gesin, of as kerk voorlê nie. In die lig van hierdie onsekere karakter van die lewe, gebeur dit dat mense deur die eeue vrae gevra het soos: Wat bied vir ons ’n anker te midde van die onsekerheid en onstuimigheid van die lewe?
Vrae soos hierdie vra ’n mens nie elke dag nie. Tog is daar tye, soos aan die begin van die jaar wat hierdie vrae na die oppervlakte beur. Dit is dan ook meestal in sulke tye dat ons as gelowiges tot die ontdekking kom dat ons diepste geborgenheid nie in materiële welvaart, of sukses, of by ander mense lê nie, maar in God self. In sulke tye ontdek ons dat ons aan God kan vashou – of eerder, dat Hy ons vashou. Dan beleef ons wat gelowiges dikwels bely, naamlik dat God daar is vir ons as ons Hom nodig het. Ons kan met sekerheid weet dat te midde van die onsekere en brose aard van ons lewens het ons ‘n goddelike reisgenoot op wie ons kan staatmaak.
In Eksodus 33 sien ons dat hierdie behoefte nie net by die volk leef nie, maar ook by Moses. Uit Moses se gesprek met die Here sien ons dat dit vir hom belangrik is dat die Here hulle op hulle reis na die beloofde land vergesel. Daarom is Moses nie tevrede met die Here se belofte dat Hy ’n engel met hulle sal laat saamtrek nie. Nee, die Here self moet saamgaan en Moses pleit by die Here vir Sy teenwoordigheid by hulle en in die teks lees ons dat die Here hieraan toegee.
Van die konsert van die lewe ontvang niemand ’n program nie. Tog glo ons dat ons nie sonder waarborge, of ’n anker is nie. Die Here herinner ons aan sy magtige dade in die verlede en bied ons ’n kykie op sy magtige dade in die toekoms.
GEBED
Heilige Here stap asseblief elke tree saam met my in hierdie jaar. AMEN