Gedagte vir die dag | Sondag 1 Mei 2022

Vandag is Sondag 1 Mei en ons is besig om deur middel van ‘n # StaanSaam-reeks te reflekteer oor wat dit beteken om te behoort aan mekaar.

Vandag is ons tema: Bly by die huis.

Josua 24:15 “Maar ek en my huis, ons sal die Here dien.” Dit is die besluit wat Josua vir hom en sy familie geneem het. Ons sal die Here dien! Die vraag is praat ons genoeg met ons man, vrou of kinders oor hulle redding? Doen ons genoeg om mekaar na Jesus toe te bring? Ons is so geneig om die Christelike opvoeding te verwaarloos. Ek glo met my hele hart dat ons in hierdie tyd terug geroep word na die tafel, waar ons saam tyd kan spandeer in God se Woord. Terug na die kerk as gemeenskap van gelowiges. Dis nie net ’n “ek” sal die Here dien nie, maar “ons” sal die Here dien. Ons behoort aan God en ons behoort aan mekaar. Ons het mekaar nodig. Woorde wek, maar voorbeelde trek. Ons moet voorbeelde vir mekaar wees in hierdie huis. In Psalm 122 sê David hy was bly toe hy hoor, kom ons gaan na die huis van die Here toe . . . Mag ons terugkeer na die Vaderhuis met lof en aanbidding. Herinner jouself vandag elke keer wanneer jy jou hande was daaraan deur te sê: Ons behoort aan God. Ons behoort aan mekaar.

Wat ’n vreugde om kinders van God genoem te mag word. Staan Saam en bly by die Vaderhuis.