Gedagte vir die dag | Saterdag 9 September 2023

Efesiërs 4:32. VERGIFNIS

Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook vergewe het. 

Ek wil die week se dagstukkies afsluit met die seisoen van groei wat met vergifnis vir ons aanbreek. Daar is min dinge wat ons lewens so gevange kan hou soos die gedagte dat ons mense wil vergeld vir wat hulle aan ons, of aan ander gedoen het. Vergelding kry ‘n houvas op ons denke. Alhoewel die insident dalk al lankal verby is, herspeel die seerkry en kwaad in ‘n mens asof dit nou pas weer gebeur het. Dit bring ons altyd weer by dieselfde gevolgtrekking uit. Daar is gewoonlik net een opsie en dit is dat die persoon moet instaan vir die skuld. Tot tyd en wyl die persoon dit nie doen nie, leef ons vasgevang in ander se skuld. Vandag se teks praat met ons oor ‘n ander opsie. Dat God se vergifnis ons in staat om ander te vergewe. Dit beteken egter nie dat ons die “betaling” (ver-geld-ing of vergoeding) gaan kry wat ons op hierdie stadium van ander verwag nie. Dit beteken eerder dat God ‘n einde bring aan die konstante baklei in jou kop oor ‘n spesifieke persoon. Vergifnis beteken letterlik dat jy die straf wat jy dink die persoon verdien sal prysgee. Ons gee daarom die persoon se skuld aan die Here oor wat in sy wysheid op die regte manier met mense handel en wat ons by ‘n oplossing uitbring: God se vrede wat nie vergeld nie.

Wie is die persone wat op hierdie manier by jou in die skuld is? Met wie baklei jy nog in jou gedagtes – lank na die insident verby is? Neem in ag dat terwyl ons oor ander mense se oortredings worstel, daar vandag mense is wat oor ons oortredings worstel. Mag die Here jou in hierdie tyd tot vergifnis lei.

 

Gebed 

 Here, U wat mense liefhet wat ek nie kan verdra nie, U wat die harte verstaan van hulle wat ek nie kan begryp nie, U wat die innerlike worsteling ken van hulle wat ek ignoreer, U wat die goeie motief sien in mense se optrede . . . open my oë en hart vir die krag van vergifnis wat U ons in ‘n kruis kom leer het. Help ons verstaan dat alhoewel ons nie alles fisies kan regmaak wat gebreek het nie en mense ons nie kan terug betaal vir wat hulle aan ons gedoen het nie, U vergifnis ons weer kan kom volmaak en heelmaak. Gee ons die moed om vandag te kan vergewe, maar ook om by ander daarvoor te vra. Amen.