Gedagte vir die dag | Saterdag 9 Januarie 2021

Jesaja 49:15.  Kan ‘n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie.

’n Tydjie gelede was ’n groot grondverskuiwing in Indië taamlik in die nuus.  As gevolg van aanhoudende reëns het ’n grondheuwel aan die bokant van ’n dorp so nat geword dat die hele heuwel inmekaar gestort het en die modder en grond het ’n gedeelte van die dorp, onder andere ’n kleuterskool, heeltemal verswelg.  Dit het die reddingswerkers meer as ’n week geneem om die nagenoeg sestig lykies van die kinders en dié van die onderwysers onder die modder uit te grawe.  Daar was baie koerantberigte oor dié ramp.  Een berig se opskrif was: Die dag toe God die kinders vergeet het . . .

Kan dit gebeur? Kan God ’n mens vergeet?  Kan dit wees dat God se aandag nie voluit by jou is nie, dat jy daar doer ver op die agtergrond van God se bewussyn verkeer, dat jy uiteindelik in die mis van vergeetagtigheid verdwyn?  Daar is immers miljoene der miljoene mense op hierdie aarde, elk met sy eie hopie moeilikheid en seer, en daar is maar een God wat aan al hierdie miljoene se probleme aandag moet gee.  Dit kan mos gebeur dat ek as klein mensie tussen al die miljoene verlore raak en nie raakgesien word nie.

Soms dink ons so, en daar is dae wanneer dit voel asof ’n mens nie meer vir God bestaan nie, dat Hy nie meer aan my dink nie en dat Hy my vergeet het!

Kan God ’n mens vergeet? Israel het so gedink.  Hulle het gevoel dat God hulle vergeet het.  In Jesaja 49:14 lees ons dat hulle sê: Die Here het my verlaat, die Here het my vergeet.  ’n Mens voel half   simpatiek teenoor die volk, want hulle het immers in ballingskap verkeer.  Maar Jesaja wemel van beloftes oor God se trou.  Ook die een wat ons vandag saamgelees het. Jy kan 2021 instap met die wete dat die Here jou nooit sal vergeet nie.

GEBED
Dankie Here dat U nie ons ooit sal vergeet nie. Dankie dat ek hierdie jaar kan ingaan met die wete dat U by my is. AMEN