Vandag is Saterdag, 9 April en ons is besig om oor die tafel en Jesus se tafelgesprekke met ander te reflekteer. Kom ons wandel vandag saam in Handelinge 2:41-47.
41 Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg. 42 Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede. 43 Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. 44 Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. 45 Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46 Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47 en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.
Kan dit wees dat die manier hoe daardie eerste gelowiges onderling met mekaar om die tafel verkeer het, mense só geïnspireer het dat daar daagliks mense na hulle gestroom het om aan te sluit en ook deel te word? Mense se gesindheid, hulle entoesiasme en omgee vir mekaar, was meer deurslaggewend as die preek van die kansel af. Dink oor die gesindheid wat mense openbaar aan die tafel en hoe dit ander inspireer. Hoe gaan julle met mekaar aan tafel om en watter beeld of boodskap van julle stuur dit na buite? Waaraan moet ons werk om meer van hierdie gesindheid te openbaar?
Refleksie:
Watter emosie het die teks by jou losgemaak?
- Skep dit opsies?
- Bring dit hoop?
- Maak dit vry?
- Daag dit jou uit?
- Gee dit rigting?
Gebed:
Stilgebed in refleksie op die teks