Gedagte vir die dag | Saterdag 8 Julie 2023

Hebreërs 3:13.  Maar solank daar nog ’n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie.

Refleksie

Ek wonder wat die strategie van sonde met ons lewens is. Een van die sterkste strategieë, dink ek, is om ons te oortuig dat ons alleen is. Of selfs dat ek alleen belangrik is. Wat Paulus hier duidelik maak, is dat die geveg teen sonde ’n spansport is en nie ’n individuele sport nie.

Dink aan ’n keer wat jy gesukkel het en iemand jou aangespoor het nie. Wat het dit vir jou beteken?

Dink aan iemand wat jy dink vandag aansporing nodig het. Koop vir daardie persoon ’n geskenk, skryf ’n brief of boodskap, of bel die persoon. Dalk laat jy daardie persoon vandag net ’n bietjie minder alleen voel.

So dikwels in die geloofsgemeenskap is ons skaam oor sonde. Ons probeer dit wegsteek vir mekaar en probeer dit alleen aanpak. Die skrywer van Hebreërs herinner ons dat die geloofsgemeenskap juis daar is sodat ons mekaar kan ondersteun en aanspoor.

Mag ons, elke dag, mekaar ondersteun en aanspoor om in Jesus se voetspore te bly volg.

Gebed

Here, sonde het soveel verskillende vorme en beteken dikwels vir elkeen van ons iets anders. Ons elkeen sukkel met ander dinge. U herinner ons vandag dat ons nie alleen hoef te wees, of voel nie. Dankie, dat ons weet dat U by ons is en dat U vir ons ’n gemeenskap van gelowiges gee wat mekaar kan ondersteun. Help my om vandag iemand te ondersteun wat dit nodig het. Maak my sensitief vir ander se nood.

Amen