Gedagte vir die dag | Saterdag 7 Oktober 2023

Die volgende paar dae is dit my voorreg om saam jou te kuier. Ons gaan wandel in ‘n paar Bybelverhale. Jy sal hulle almal onthou uit jou kinderdae of jy sal hulle onthou soos jy dit vir jou kinders gelees het.

 Lees Jona 1-4: Die verhaal van Jona

 Teks: Jona:1:17

17Toe stuur die Here ‘n groot vis om vir Jona in te sluk, en hy was drie dae en nagte in die vis se maag.

 GEDAGTE

Die boek Jona maak dit duidelik dat God besorg is oor Sy hele skepping. Elke mens, dier en plant.  Anders as wat Jona gedink het, strek God se genade m.a.w verder as net die mense van Israel. Die mooi van die boek Jona is dan ook dat diegene wat nie deel van die God se Ou-Testamentiese volk uitmaak nie met ope arms aangryp. Anders as Israel wat oorlaai is met God se Woord net om dit al te dikwels met minagting opsy te stoot, kom die mense van Nineve tot bekering.  Dit wys hoe groot God se genade is.

Ons sukkel om God se genade volkome te verstaan. As die genade my en jou sukses en gemak insluit. Dan is ons tevrede daarmee, maar as God se genade meer van my vra. Dan het ons ‘n probleem daarmee. ‘n Onbekende skrywer het die volgende geskryf:

 “What’s wrong with a merciful God? Isn’t that what we all would like from God? Mercy?

Yet when the mercy of God for me is also the mercy of God for them, when I look up on Sunday, me cosy with my God only to find God working the other side of the street

with them, well, it just doesn’t feel all that merciful.”

Is jy bereid om te gaan om God se genade uit te deel. Daar waar jy dalk ook onder die dooie komkommerplant sit en met God redeneer, woedend oor dinge wat nie verloop het soos wat jy wou gehad het nie.  Nou het God vir jou kom sê dat Hy genadig, barmhartig, geduldig en vol liefde is vir alle mense. Is jy bereid om ook hierdie genade te deel selfs met hulle vir wie jy kwaad is, hulle wat jou irriteer, hulle wat van jou verskil. God het Sy genade oor jou uitgestort nie om net vir jouself te hou nie, maar om ook te gaan deel.

GEBED

Elke hartklop elke asem elke oomblik van my lewe,

elke vreugde elke rede om te lewe kom uit U.

Al my gawes al my drome my voorspoed en oorwinnings,

al my kragte dae en nagte vol genade kom uit U.

Elke dankie elke loflied elke amen halleluja,

elke woord wat U verheerlik elke offer is vir U.

Al my gawes al my drome my voorspoed en oorwinnings,

al my kragte dae en nagte vol genade kom uit U.

U is vir my genoeg

Amen