Gedagte vir die dag | Saterdag 7 Mei 2022

 

Psalm 109:26.  Help my, Here my God, red my in u troue liefde,

Was jy al daar? By die punt waar jy eintlik alle hoop om gehelp te word, laat vaar het.  Daar waar jy voel: ek het nou aan alle moontlike oplossings gedink, alles probeer wat ’n mens kan probeer, en daar’s rêrig niks aan my probleem/nood te doen nie?

Daar’s baie mense in hierdie land en in ons samelewing wat waarskynlik by daardie punt is waar hulle eintlik alle hoop om gehelp te word laat vaar het, daar waar hulle voel: Ek het nou aan alle moontlike oplossings gedink en alles probeer en ek besef nou dat daar geen uitkoms vir my probleem/nood is nie. Teleurgestelde mense. Dalk is jy op hierdie stadium in jou lewe op so ’n plek.

En weet jy wat gebeur – wanneer die verwagtings in ons harte kwyn, word ons gebede ook al hoe kleiner en flouer.  Wanneer ek iets nie meer as moontlik ag nie, gaan ek mos ophou bid daarvoor, of gaan ek met baie min entoesiasme en drif daarvoor bid!

Maar in vandag se teks hoor ons weer die intense gebed van die Psalmskrywer: “Here help my.” En nou weet ons ook dat die Here nie elke keer links en regs vir ons wonderwerke gaan doen as ons dinge van Hom vra nie – sommer net om ons te plesier ,of om die lewe vir ons makliker te maak nie. Maar ons weet ons kan Hom vertrou. Al is dit ook net vir krag om deur jou situasie te kom. Vetrou Hom. Hy is daar en Hy hoor elke keer as jy met Hom praat.

GEBED

Op U verlaat ek my, genadige Heer; die vrede wat U bring, is al wat ek begeer.

Ek het U nodig, Here, daagliks, talle kere!
Neem U my hand, o Heiland, ek kom na U.

AMEN