Gedagte vir die dag | Saterdag 7 Januarie 2023

Teks. Matteus 6:9. So moet julle bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood.

Hierdie kort sin is ‘n uittreksel van die baie bekende ‘Ons Vader’ gebed wat ons van kleins af geleer is. Gebed is nie iets wat altyd vir almal spontaan kom nie, maar dan is daar mense wat welbekend dis dat hulle goed kan bid. Dit is soos die oom wat gereeld op Pinksterbidure sy gebede op die volgende wyse begin het. Here, soos U seker ook vanoggend in Die Burger gelees het sou U gehoor het van … – en dan vat hy ‘n mens van die voorblad tot die agterblad en noem al die dinge wat skeefloop waaraan die Here aandag moet gee. Die feit dat die Here ons eenvoudig leer bid maak ons bewus dat hy reeds van alles weet en die bedoeling van ons harte goed ken. Die eenvoudige sin in die Ons Vader gebed, “gee ons vandag ons daaglikse brood”, leer ons om eenvoudig ons vertroue in die Here te plaas vir wat ons ook al mag nodig hê. Alhoewel jy nie altyd die woorde het om te bid nie en ook dikwels nie kry wat jy op gehoop het nie – mag jy ervaar hoe hierdie eenvoudige woorde jou tot rus bring in wat ook al in die dag vir jou voorlê.

Gebed

Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.

AMEN.