Gedagte vir die dag | Saterdag 6 Maart 2021

Lukas 22:63-64.  “63. Die manne wat vir Jesus bewaak het, het aangehou om met Hom die spot te dryf en Hom te slaan. 64. Hulle het Hom geblinddoek en gesê: “Jy is mos ‘n profeet! Sê wie het jou geslaan!'”

So kom staan ’n groot klomp soldate rondom Jesus om hom te spot.  Hulle buig voor Hom as ’n koning en groet Hom spottenderwys.  Hulle trek vir Hom klere aan soos ’n koning en sit vir Hom ’n kamma-kamma kroon op.  Alles om Hom te verneder en die spot met Hom te dryf.

Mense spot vandag nog met Jesus en vir Jesus.  Hulle gebruik sy Naam ydelik en dryf so die spot daarmee.  Baie mense skud hulle kop oor dit wat die Bybel as God se woorde oor Jesus en sy lewe leer.  Vrae soos: Was Hy regtig God, is Hy regtig die Koning, kon Hy inderwaarheid skep en het Hy werklik opstaan, word gereeld gevra.  Jy sal vandag nog maklik kan raaksien hoe Jesus, selfs na sy oorwinning aan die kruis, steeds gespot word deur mense wat nie in Hom glo nie.  Daar is ’n fyn lyn tussen spot en geloof.  ’n Mens kan spot met die feite, of die feite glo.  ’n Mens kan glo Hy is die Koning, of daarmee die spot dryf.

Maar voordat ons vingers na ander wys, Christene kan Hom ook spot deur, soos die soldate gedoen het, Hom net kastig te dien.  Daar is duisende kamma Christene in die wêreld!  Dit is die mense wat die een oomblik die palmtakke voor Jesus swaai, maar Hom terselftertyd spot omdat dit wat hulle sing en bely nie ooreenstem met dit wat in hulle lewens plaasvind nie!  Trouens, dit is die aanklag van die wêreld teen Christene!  Julle maak julle Jesus tot bespotting want dit wat julle van Hom glo en bely stem nie ooreen met dit wat julle doen, dink en lewe nie!

GEBED

Here ek moet bely dat ek seker ookal in my lewe op een of ander manier met U gespot het. Vergewe my asseblief en help my om heilig te lewe.