Vandag is Saterdag 6 Augustus en hierdie week is ons besig om na te dink oor gedagtes wat jou in jou verhouding met God wil laat groei. Ons kry regdeur die Bybel verskeie werklikhede hoe God ervaar kan word. Hierdie realiteite identifiseer maniere hoe God werk om mense van sy aktiwiteite deel te maak. Henry Blackaby skryf in sy boek, Experiencing God, dat God op ’n verskeidenheid van maniere met ons praat om Homself, sy planne en sy weë aan ons te openbaar.
Hebreërs 1:1-2 “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun”.
Ons kan nie God beperk tot sekere maniere en optredes nie. God is baie meer as ons persepsie van Hom. God kan op baie meer maniere as wat ons verwag met ons praat. Ons sien in die Bybel hoe God deur drome en visioene met mense praat. Hy gebruik die natuur, wondertekens, profete, ’n sagte fluistering (1 Konings 19:12), vuur, die werp van die lot en engele. Hy praat in die middel van die nag, gedurende aanbiddingsdienste, by maaltye, wanneer mense oppad is, deur preke, in die middel van ’n storm en deur sy Seun. Die belangrike is nie hoe God gepraat het nie, maar dat Hy gepraat het. Is jy nog verwonderd oor die feit dat die Here steeds kies om met jou te praat? Maak jouself ook oop vir ander maniere om God se stem te hoor, want hy wil met jou praat.
Gebed: Spreek Heer. Spreek Heer. U dienaar luister. Amen.