Filippense 4:4. Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
Daar is altyd dinge in die lewe wat met ons gebeur en waarvan ons graag wil wegkom. So hanteer ons die een na die ander kwessie. Sodra die een afgehandel is, skuif daar net weer ‘n ander bekommernis, of frustrasie in sy plek. Iewers is daar altyd ’n verhouding wat skeefloop en wat herstel moet word. Alles bou gewoonlik op tot op ‘n punt waar dit vir ons nodig raak om van alles weg te kom sodat ons emosionele energie kan herstel. In vandag se teks praat Paulus met ons oor ‘n lewe wat nie van omstandighede wegvlug nie, maar op betekenisvolle maniere daarbinne kan leef. Meer nog, dit praat met ons om altyd in die midde van hierdie omstandighede bly te kan wees. Hoe sal ons dit regkry? Hoe absorbeer ‘n mens al die emosies en ervaringe wat die vermoë het om ons en ander mense van stryk te bring. Paulus antwoord deur ons aan te moedig tot ‘n daaglikse roetine waar ons al ons bekommernisse en uitdagings in gebed na die Here toe bring. Hoe help dit ons prakties? Elke keer as ons dit doen word ons deur God herinner aan groter realiteite en maniere waarop Hy ons in staat stel om situasies te hanteer. “Wees bly”, is dus nie ‘n nou en dan ervaring as alles goed verloop nie. Dit is ‘n deel van die alledaagse lewe waartoe die Here ons in staat stel. Mag hierdie vrede vandag weer van jou lewe besit neem en jou aanmoedig om oor niks besorg te wees nie, maar in alles jou begeertes deur gebed, danksegging en smeking aan God bekend te maak.
Gebed
Here, dankie vir hierdie oomblik vanoggend waarin ek te midde van die spanning, hartseer, bekommernis en frustrasies in my lewe by U vrede kan vind. Daar is so baie dinge wat my pla en wat ek vanag voor U kom lê. Dit is soms moeilik om die warboel van emosies in woorde om te sit. Dankie dat U vandag dieper as my woorde kan sien en van my emosies en denke besit neem. Here, stuur my denke om my vandag by perspektiewe uit te bring wat my kan help om besluite te neem. Help my om hierdie oomblik deel te maak van my daaglikse roetine. Ek leef in die vertroue dat U nie net in hierdie oomblik by my is nie, maar wanneer ek na hierdie gebed my oë oopmaak U ook in hierdie dag vir my sal vergesel.
Amen.