Matteus 6:9-13. Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; 10laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. 11Gee ons vandag ons daaglikse brood; 12en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; 13en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.
GEDAGTE
Jy ken natuurlik hierdie pragtige gebed uit jou kop uit. In baie gemeentes is dit die gebruik om hierdie gebed elke Sondag biddend te sing as deel van die erediens.
Ek wil amper sover gaan en sê dis gevaarlik om die Ons Vader te bid. Want dis ’n gebed waarin ons God se ingrype in hierdie wêreld afbid. Waarin ons pleit dat Hy nie hierdie wêreld waarin ons woon sal laat soos dit is nie, maar sal verander en sal omkeer sodat iets sigbaar word van die nuwe hemel en die nuwe aarde wat eendag sal wees as Christus op die wolke van die hemel in al sy heerlikheid kom.
- Ons bid in hierdie gebed: Laat u Naam geheilig word, terwyl God se Naam daagliks in hierdie wêreld geminag en onteer word, mense sy Naam laster en dit gebruik om te vloek en te sweer . . .
- Ons bid – Laat u koninkryk kom, en dit terwyl dit in die wêreld eintlik net om mense se eie koninkryke, ideale en strewes gaan en mense hulle min aan God en sy gebod steur. . .
- Ons bid – laat u wil geskied terwyl mense lewe na hulle eie wil, en boonop hulle eie wil op ander afdwing en nooit eens vra na die wil van die Here nie.
- Ons bid – gee ons vandag ons daaglikse brood terwyl die mensdom eintlik maar leef asof net ons self verantwoordelik is om ons mae te vul en allermins in afhanklikheid van die Goeie Gewer hulle bestaan maak . . .
- Ons bid om die vergewing van ons sondes terwyl al hoe minder mense enigsins meer oor sonde nadink, of selfs wil erken dat daar iets is soos ’n gebod van God waaraan ons gehoorsaam moet wees . . .
- Ons sê, vergewe soos ons ook vergewe, terwyl daar in hierdie wêreld juis nie plek is vir vergifnis nie, maar dat ’n oog vir ’n oog eerder toegepas word.
- Ons bid om van die versoeking en verleiding van die Bose verlos te word, en dit in ’n wêreld waar die Bose juis aanbid en gedien word op soveel maniere en waar versoekings eerder gesoek en verheerlik word . . .
GEBED
Hemelse God en Vader dankie vir hierdie gebed. Mag ek dit werklik met die grootste eerbied en respek bid en nie uit gewoonte uit nie.
Amen