Gedagte vir die dag | Saterdag 4 Desember 2021

Lukas 2:7. Maria het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.

Julle is seker bewus van die Apokriewe boeke. Dit is die boeke wat die “onegte boeke” was. Daar is onder andere een wat baie bekend was, die “oerevangelie van Jakobus.” In die boek was daar legendes, een was Maria, om haar te eer. Die verhale is nie waar nie, dit is oneg, maar die spesifieke een is vir my vreeslik mooi as jy na die beeld hiervan kyk.

In een daarvan word vertel van Josef wat dringend na ’n vroedvrou gesoek het toe Maria dringend die lewe aan die kindjie moes skenk. Toe hy buite kom, het hy tot sy verbasing gevind dat alles en almal in hul spore vasgesteek het. ’n Voël wat wou opvlieg, het op die tak bly sit met sy vlerke uitgesprei.

Die arbeiders het rondom hulle bak kos versteen. Party van hulle het met hul hande na die kos uitgesteek gesit, ander was besig om die kos in hul monde te sit, en ander was besig om te kou. Die skape wat oor die bult gekom het, het net daar tot stillstand gekom, en die skaapwagter wat hulle aangejaag het, is in sy gang gestuit, met sy een voet in die lug, en sy hand op die grond soos wat hy keer.

By die water, wou die bokke begin drink, maar hulle het bewegingloos met hul bekke bo die water bly staan. Vir ’n oomblik het alles in die groot wêreld, rondom Josef tot stilstand gekom, soortvan gestol. Dit was so kort dat niemand buiten Josef dit agtergekom het nie.

Meteens was alles weer normaal, soos dit voorheen was. Die voël het weggevlieg, die arbeiders het aangegaan met hul ete. Die skape is deur die skaapwagter oor die bult gejaag en die bokke het hul dors geles. Die mooi in hierdie Apokriewe verhaal is dat toe die Christus Kind gebore is, was daar ’n oomblik van stilte en stilstand gewees.

Al weet ons dit was nie regtig so nie, kan ’n mens verstaan waarom die skrywer van die ou Aprokriewe verhaal dit by al die ander wonders van die geskiedenis van Jesus wou byvoeg. Want, dit was die grootste gebeurtenis in so klein dorpie.

Ek weet jy ken die Kersverhaal al van kleins af, jy ken dit so goed dat jy regtig nie meer luister as dit vertel word nie, of dat jy nie meer daaroor nadink in hierdie tyd nie. Maar as alles vir jou oorbekend is, en daarom niksseggend geword het, moet ons dalk in ons spore vassteek.  Amper soos die oerevangelie van Jakobus vertel dat daardie dag gebeur het.  Ons moet tot stilstand kom, asof ons dit vir die heel eerste keer hoor.  Ons moet daaraan dink dat God Sy Seun ’n mens laat word het, sodat ek en jy nie verlore sal gaan nie, maar dat ons die ewige lewe sal kan ontvang, en bo alles saam met Hom kan lewe.  Elke dag ten spyte van al die eise van die lewe waarin ons staan. Ons moet stilstaan, en ons terugtrek van al die werkskaf van elke dag, en nadink oor die betekenis van Jesus Christus, vir my en jou. Dan kan vandag, of môre, of oormôre vir my en jou ’n groot dag word.

Gebed:

Here dankie dat U vir ons in ons spore kan laat stop, om oor die betekenis van hierdie wonder na te dink. Gee dat dit met ons in hierdie tyd sal gebeur, in ’n bo-natuurlike manier.

Amen