Gedagte vir die dag | Saterdag 31 Oktober 2020

Openbaring 4:8: “Hulle het dag en nag sonder om te rus, gesê: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.”

God oorspan alle tye! Gister, vandag en môre, die verlede, hede en toekoms, want Hy is die een wat was, en is, en wat kom. Vriende dit is die refrein wat oor en oor deur die hemelse wesens wat vir God aanbid in Openbaring 4 gesê is, sonder ophou!

Dit laat ons ook dink aan die engele voor die troon in Jesaja 6. Hemelse wesens wat totaal oorweldig was deur die Heiligheid van God, in wie se teenwoordigheid hulle hulself bevind het.

Heilig, heilig, heilig – voltallig heilig. Dit is hoe die persoon op die troon omskryf word. Heilig… anders… nie vasgevang in menslike beperkinge nie, volledig aanbiddelik. Sy identiteit, Sy Naam: “Die Here God, die Almagtige!” Soos Johannes Hom ook vroeër in die brief in Openbaring 1:8 beskryf het waar Hy homself noem: “die Alfa en die Omega, die Here, die een wat was, wat is, en wat kom”

Watter ongelooflike troos lê daar nie vir ons in hierdie identiteitsomskrywing van God nie!  Hy is onmeetbaar aan menslike en wêreldse standaarde.  Hy is heilig, sonder vlek of rimpel, en Hy is almagtig!  Alle mag in die hemel en op die aarde behoort aan Hom. Dan ook . . . Hy, in Sy heiligheid en almag, oorspan alle tye. Hy was daar in ons verlede om ons te skape en aan ons te voorsien en ook om ons verlossing in Jesus Christus te bewerkstellig, en ons tree vir tree te begelei. Hy is ook in die hede . . . Hy is nou vir ons Immanuel, God met ons, hier by ons te midde van al ons huidige situasies, en deel van ons daaglikse lewensreis!  Maar Hy is ook ons toekoms, die Omega, die een wat kom. Die een wat die fokus van ons hoop kan wees.

Gebed

Kom ons val op ons knieë en bid saam: “Heilig, heilig, heilig is die Here die God, die almagtige. Hy wat was, en wat is en wat kom!  Maranatha, kom Here Jesus, Amen.