Psalm 90:1. “Here, U was vir ons ‘n toevlug van geslag tot geslag.”
GEDAGTE
Kom ons kyk na een van die wonderlikste beloftes in die Woord van God: God is vir ons ‘n toevlug en beskerming, Hy was nog altyd bereid om ons in nood te help. Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid.
As jy hierdie God en Hemelse Vader in Christus ken, weet jy ook dat jy onder alle omstandighede nie alleen is nie, en dan kry jy ook die moed om uitdagings die hoof te bied. Dit is ’n verklaring, ’n getuienis, ’n uitdrukking van geloof, maar dit beteken nie dat niks sleg met jou kan gebeur nie en dat jy altyd pyn- en sorgvry deur die lewe sal gaan nie. Om in God te glo, beteken dat jou lewe en perspektief verander. God is magtiger as die uitdagings en moeilike tye wat jou bedreig en jou dikwels ’n speelding of slagoffer van jou omstandighede maak. By God is daar altyd hoop en uitsig. Hy sal seker maak dat die omstandighede jou nie sal onderkry nie.
Neem dan ook die belofte van Psalm 46 saam met jou in 2023.
GEBED
Hemelse God en Vader, dankie dat ek kan terugkyk oor die jaar wat verby is en sien hoe U my toevlug was. Dankie dat ek ook op U kan vertrou met die wete dat U in die nuwe jaar ook vir my ’n toevlug sal wees. Amen