Prediker 12:13. Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word.
Prediker het baie goed nagedink oor die sin van die lewe. Oor die waarde van hoe tyd in sy lewe loop. Hy het ondersoek ingestel na alles waarmee mense hulle met soveel sorg besig hou en bevind dat die meeste daarvan ’n gejaag na wind was. Dinge waaraan mense hulle krag en energie spandeer hou nie lank nie en gaan dikwels vinnig verby. Vandag se teks daag ons tot dieselfde bewussyn uit. Dit wil nie die punt maak dat ’n klomp van die dinge waarmee ons besig is, nutteloos is nie, maar eerder dat ons moet bepaal wat ons fokus is, terwyl ons daagliks met soveel verskillende dinge te doen kry. Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Prediker vra van ons om elke dag bedagsaam voor God te leef. Dank die Here vir die eenvoudige gawes van die lewe, gryp die geleenthede aan waarby die Here jou uitbring en leef in vertroue oor die groot dinge wat om jou gebeur en jy nie aldag verstaan nie. Mag jy elke oomblik van hierdie dag wat voor jou lê, beleef as ’n gawe van die Here.
Gebed
Vanoggend staan ek op, Here God, en gaan die dag binne gevul met groot krag, want U krag lei my; U mag hou my regop; U wysheid leer my; U oë waak oor my; U ore hoor my. Here dit is met hierdie ingesteldheid wat ek die voorreg van hierdie nuwe dag in gaan. Amen.