Gedagte vir die dag | Saterdag 3 April 2021

Matteus 27:59-61. “Josef het die liggaam geneem en dit in skoon linne toegedraai en dit daarna neergelê in sy eie nuwe graf wat hy in die rots uitgekap het.  Hy het ’n groot klip voor die ingang van die graf gerol en weggegaan. Maria Magdelena en die ander Maria was ook daar en het reg voor die graf gesit.”

Die Saterdag van die Paasnaweek word “stil Saterdag” genoem.  Lyding het tot gevolg dat ons liggame in ’n skoktoestand ingaan waarin jy dikwels niks anders kan doen as om net vir ure verslae te sit en staar nie.  Jy het fisies net nie die krag om enige iets anders op daardie tydstip te doen nie. Dit is hoe die vroue na Jesus se dood hulle tyd spandeer.  Oorweldig deur hartseer het hulle voor Jesus se graf gesit. Daar was niks wat hulle kon doen om hierdie omstandighede om te keer nie.  Ons almal ken hierdie “stil” ruimtes in die lewe baie goed. Beleef die sekuriteit van God in die stilte waarin jy vasgevang sit.

Gebed

Bly by my Heer, U wat nie verander nie, al is niks anders in hierdie lewe konstant. Die jare snel verby, die lente word herfs, die skadu’s word al langer. Help my om elke laaste uur, elke dag, oorwinnend te lewe. Ek begin steeds die skadu’s van oudword en dood sien.  Verlos my, in die Naam van Jesus Christus, Oorwinnaar oor die dood, van die verslawende vrees vir die “laaste vyand”. Help my om uit te sien na die Ewige Lente.