Ons kuier vandag by die laaste vrou. Dit is Hanna
Lees: 1 Samuel 1:1-28
Teks: 1 Samuel 1:11 “Sy het ‘n gelofte afgelê en gesê: “Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my ‘n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie.”
GEDAGTE
Die meeste van ons ken Hanna deur haar seun, die profeet, Samuel. Hanna het as ’n onvrugbare vrou geleef in ’n tyd wat die volk geestelike onvrugbaarheid beleef het. Haar oplossing was gebrokenheid voor die Here. Hanna was een van Elkana se twee vroue. Penina het kinders gehad en Hanna geen. Penina het Hanna se kinderloosheid gebruik om haar te spot. Hanna het haar hart voor God uitgestort. Ons lees dat sy bitter hartseer geword het. Letterlik ook bitter in haar siel geraak het. Hierdie keer wanneer Hanna haar hart voor God uitstort fokus sy nie op haar onvrugbaarheid nie, maar eerder op die Here. Hanna bid uit ’n gebroke en berouvolle hart tot God. Sy weet dat God by magte is om aan haar kinders te gee indien Hy so sou besluit. Hanna het gebid dat die Here haar nie moet vergeet nie. En Hy het inderdaad nie. Die Here het haar versoek onthou en haar op haar tyd laat swanger raak. Sy ontvang ’n seun en noem hom Samuel wat beteken:”van die Here het ek Hom af gesmeek”.
Kom ons kyk vandag in die spieël en vra onsself af watter onvrugbaarheid is daar in ons lewens? Daar is net twee moontlikhede as ons onvrugbaarheid in ons lewens beleef – ons kan die pad van bitterheid kies, of die pad van gebrokenheid voor die Here. By watter kruispad bevind jy jou? As God soms onvrugbaarheid in ons lewens toelaat hetsy dit deur ons gesondheid, finansies of watter krisis ookal is, is dit nooit om ons te benadeel nie. Hy wil ons waarskynlik nader trek aan Hom. Waarom stort jy nie ook soos Hanna jou hart uit voor die Here nie?
GEBED
Hemelse God en Vader, ek plaas vandag my onvrugbaarheid voor U neer. Sal U my asseblief daarmee help en my daardeur lei. Amen