Hebreërs 12:1-2. “Terwyl ons dan so ’n groot skare geloof getuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.”
As kind het hierdie teks my altyd laat dink aan die ervaring om in die 1980’s saans atletiekbyeenkomste op Coetzenburg, Stellenbosch by te woon. Dit was wonderlik om langs die baan te staan wanneer Zola Budd, of Johan Fourie deur ’n magdom mense aangemoedig word om ’n nuwe rekord na te jaag. Baie jare later het ek die geleentheid gehad om persoonlik met elkeen van hulle te gesels en by hulle self te verneem hoe hulle die ervaring beleef het. Beide het vertel dat dit ’n ongelooflike ervaring was en hoe die skare se aanmoediging deurslaggewend was in hulle prestasies. In die tyd van Covid-19 het die skares wat mense aanmoedig langs sportvelde baie yl geraak. Ook wat die kerk betref het ons lanklaas die voorreg gehad om aansporing deur die gemeenskap van gelowiges te beleef. Kom ons maak daarom vandag moeite om spontaan na mekaar uit te reik en mekaar aan te moedig. Doen dit deur ’n oproep of deur positiewe kommentaar op sosiale media te lewer. En wanneer jy weer die voorreg het om saam met gelowiges in ’n groep te wees, raak dan opnuut bewus van die groot voorreg wat dit wel is.
Gebed
Here, baie dankie vir die voorreg om deel te kan wees van ’n gemeenskap van gelowiges. Ons bely ons geloof in die kerk en is altyd bewus dat u liefde en genade in die besonder tot ons deurdring deurdat U mense roep om ons pad te kruis. Here, help ons om in hierdie grendeltydperk maniere te vind om na mekaar uit te reik en nie oorwin te word deur afsondering of eensaamheid nie. Dankie dat u Gees ons inspireer om op klein en eenvoudige maniere vir mense baie te beteken. Ons dank U vir die voorreg om kerk te kan wees.