1 Samuel 16:7. Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”
’n Ander manier om hierdie te sê, is om te: Die mens kyk na die oppervlak, maar die Here kyk dieper, na die dinge onder die oppervlak. Ons leef dikwels ons lewens op die oppervlak. As iemand vir jou vra, “Hoe gaan dit?”, antwoord ons vinnig, “goed en self?” of “besig, maar ons gaan aan”. Ons deel gewoonlik nie hoe dit werklik met ons gaan nie en ons sien net die oppervlak van wat in ander se lewens aangaan. Daar is dikwels in ons eie en in ander se lewens, ’n realiteit onder die oppervlak wat ons nie raaksien nie.
Deur hierdie verhaal in Samuel, nooi die Here ons ook uit om dieper te kyk, om nie te vinnig te oordeel nie. Om te besef dat dit wat op die oppervlak gebeur, dikwels ’n groter verhaal het. Mag ons leer om met die oë van die Here na onsself en ander te kyk.
Dit nooi ons ook uit om in ons daaglikse lewens ons harte met mekaar te deel. Om nie net op die oppervlak te leef nie, maar om die dinge wat in ons hart leef met mekaar en met die Here te deel. Die teksgedeelte gee ons ook die versekering dat die Here ons raaksien. Nie wie ons voorgee om te wees op die oppervlak nie, maar die brose realiteit wat onder die oppervlak leef. Daarom kan ons ook ons harte met vrymoedigheid met die Here deel.
Gebed
Here, ons is so dikwels nie eers bewus van die dinge wat in ons eie harte leef nie, maar oordeel so vinnig oor wat ons op die oppervlak van ander mense se lewens sien. Maak ons bewus van die dinge wat in ons eie harte leef. Help ons om raak te sien wat in ander se harte leef. Mag ons leer om met u oë te kyk na onsself en na ander, sodat ons harte, een kan wees met u hart.
Amen