Habakuk 3:17-18. “17Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, 18nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.”
- Al sou petrol styg tot by R40 per liter
- Al sou jy in die volgende rondte afleggings by jou werk wees
- Al sou jy aansoek doen vir vele poste en steeds nie werk kry nie
- Al sou jou huweliksmaat jou net nie meer verstaan nie
- Al sou jou kinders net meer uitdagend raak
- Al sou die boelies by die skool jou snoepiegeld steel
Sal jy nogtans in die Here kan Jubel? Sal jy kan juig in God jou Redder?? . . . sal jy kan . . . Habakuk sê hy sal.
In die boek Habakuk worstel hy met die Here oor al die slegte dinge wat met die volk gebeur. Hy sit en huil voor die Here: “Hoe lank nog, Here? Ek roep om hulp … Twis ontstaan en rusie neem toe. Daarom het die wet sy krag verloor … goddeloses omsingel die regverdiges.” (Hab 1:2-4).
Die Here gee vir Habakuk ’n antwoord. Dit gaan nog baie slegter gaan voor dit beter gaan. Maar, sê die Here ook, daar kom wel ’n einde aan hierdie lyding. Die Here sal ’n uitkoms gee, maar Habakuk moet geduldig daarvoor wag. Dit is dan dat Habakuk die woorde in Habakuk 3:17-18 uitjubel. Al sou die heel ergste gebeur (sê Habakuk), sal hy nogtans in sy hart bly wees oor die Here, en dit ook met sy mond uitjubel. Let wel, hy sal nie bly wees oor die teëspoed nie, maar in die teëspoed sal hy bly wees in en oor die Here – hy sal bly wees omdat die Here daar is.
Ons amal raak somtyds bedruk, dit is tog normaal. Dan moet ons, ons kruis met blymoedigheid dra. Dit beteken nie dat ons dan net vrolik moet wees nie. Jy moet dan net soos Habakuk kan sê: “Nogtans sal ek jubel.” Jy moet in moeilike tye steeds kan sing, “It is well with my soul”. Daar is altyd rede om bly te wees en te jubel. Waaroor kan ons as gelowiges nog bly voel, selfs in moeilike omstandighede? Dink net, God sal altyd vir jou lief wees en altyd by jou wees.
Billy Graham het gesê: “Die onverdienstelikheid van genade en seën maak dat Christene die enigste mense is wat regtig iets het waaroor hulle permanent kan bly wees.”
GEBED
Hemelse Here, dankie dat ek kan weet dat U ook in my moeilike omstandighede by my is.
Amen