Ek deel graag ’n gedig van Dirkie Smit vandag met jou.
Hoe dikwels leef ons traak-my-nieagtig, ongeïnteresseerd, ongeërg asof niks saak maak nie?
Asof ons vir niks en niemand omgee nie, nonchalant, asof ons geen passie ken nie?
Hoe dikwels praat ons nie van “hulle” nie, etiketteer ons nie ander nie,
Bring ons nie kwaad, onheil en leed oor hulle deur hoe ons praat nie?
Deur hoe ons met hulle praat, van hulle praat en oor hulle praat nie?
Hoe min verstaan ons tog eintlik nie,
Van hulle die heel naaste aan ons en hulle harte nie?
Hoe min van onsself, en ons eie harte.
Hoe alleen voel ons nie dikwels nie, hoe verlate, hoe eensaam?
Hoe leeg voel ons wêreld en ons eie wêreldtjies nie soms nie?
Hoe gou vergeet ons nie?
Hoe min sien ons nie soms nie?
Hoe maklik bedrieg die skyn ons nie?
Hoe dikwels word ons nie verras deur u Gees nie, Here?
Hoe ontdek ons nie net skielik, onverwags, op ’n dag, u genadige werkinge nie?
Ons ontvang die lewe- met sovele goeie gawes.
Ons ontvang talente en vermoëns, ons groei in kennis en insig, ontdek dat ons iets verstaan.
Ons word getroos in moeilike tye,
Ontvang vrede in ons gemoed, kalmte, rus, selfbeheersing.
Hoe ontdek ons nie dat ons versterk en gedra word, geroer, geraak, beweeg, en begeester word nie?
U verras ons elke dag met U goedheid. Met U teenwoordigheid.
Mag ons U vandag herken in oomblikke van liefde, vrede en nederigheid.