Spreuke 5:21. “Onthou die Here sien alles wat ’n mens doen en Hy beoordeel elke daad.”
Ek het jare gelede gehoor dat tydens ’n konferensie van Presbiteriaanse predikante (dis die Engelse kerk wat die meeste met ons ooreenstem) in Skotland, ’n paar van die dominees, ek dink daai tyd was dit meestal mans, besluit het om een middag na hul werksessie ’n ent te gaan stap. Ongelukkig het ’n stortbui reën hulle oorval en hulle moes inderhaas weer na die plaashuis koers kry. Op die plaaspaadjie was ’n ou voetbrug oor ’n sterk bergstroom en terwyl hule nog wik en weeg of hulle die tog oor die rivier sal aanpak, het ’n ou Skot wat op die plaas gewoon het, na hulle aan gehardloop gekom en sy arms wild rondgeswaai om vir hulle iets te beduie.
Die een predikant het hom probeer gerus stel met die woorde: “Alles is reg, ons is Presbiteriaanse predikante wat die konferensie bywoon. Die ou Skot het hom blykbaar net een kyk gegee en gesê: “Ek gee nie om of julle Presbiteriane, of wat ookal is nie, maar julle as julle oor daai mankoliekige bruggie loop, gaan julle almal vandag Batiste word.
Is dit nie tyd dat gelowiges oor kerkgrense heen in ons land moet begin saamstaan nie? Nie net noodwendig saam begin bid nie, maar ook mekaar se hande vat. Veral wanneer dit oor ons Christelike beginsels en waardes in ’n land wat letterlik en figuurlik “brand”, gaan. En dikwels vind ons gelowiges aan die teenoorgestelde kante van die spektrums rakende rassisme en baie ander kwessies. Ek hoef nie uit te brei oor die sake wat tussen mense staan nie.
Dawid vra tereg in Psalm 11:3 “As die fondamente ondermyn word, wat kan die regverdige daaraan doen?” Behalwe om bloot net op God te vertou soos Dawid ons raad gee, is dit nodig dat ons soos Nehemia en sy medewerkers by die stukkende mure van Jerusalem demonstreer hoe ons kan saamwerk/hande kan vat en die verskille wat ons het kan begrawe.
Dat ons soos Nehemia samewerking in die praktyk beoefen. Dit begin by ’n gesindheid. Ek onthou die bekende Duiste predikant Richard Wurmbrand se antwoord aan iemand wat by ’n byeenkoms gevra het of die Rooms Katolieke en die Lutheriane tydens die Tweede Wêreldoorlog darem in die konsentrasiekampe met mekaar oor die weg gekom het?
Wurmbrand was verbaas oor die vraag, en het gesê: “In so ’n krisistyd dink jy nie eers aan iemand se kerkverband nie. Indien die een langs jou ’n gelowige is, beteken dit dat julle dan dieselfde dink en dieselfde taal praat.” Veral in ons hedendaagse tyd het ons nie baie mense wat die kerk se drumpel noodwendig deurtrap nie. Ons sukkel om mense in die kerk te kry, maar ons het mense nodig wat hulself as navolgers van Christus identifiseer in dit in die praktyk leef. Al behoort hulle aan watter kerk ook al.
Gebed
Here, dankie dat die gestalte van U kerk nie is in watter denominasie ons behoort nie maar of ons saam veg in die gestalte, in die werklikheid van U koninkryk wat hier in die land waar ons woon gestalte kry. Help vir ons almal om daaraan te werk en om dit in die praktyk te praat en te leef. Amen.