Psalm 56:4-5. 4Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U. 5In God, wie se woord ek prys, in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie. Wat kan ‘n blote mens aan my doen?
Hoe sou jy voel as jou grootste vrese vandag ’n realiteit word? Ek praat nie van die donker, spinnekoppe of eksamens nie. Jou grootste vrese. Daardie gesondheidsprobleem is toe nie so onskuldig as wat jy gedink het nie. Jou huwelik beland op die rotse. Jy verloor ’n geliefde. Jy verloor dalk jou werk, of bron van inkomste. Dit waarvoor jy nog jou hele lewe lank bang is, staar jou nou vierkantig in die gesig. Hoe voel jy? Oorweldig? Angstig? Raadop? Hopeloos?
In Psalm 56 bid Dawid vreesbevange. Die eerste vers verduidelik vir ons die agtergrond waarbinne Dawid homself bevind. Dawid is ’n gevangene. Die koning Dawid is nou gevange en word soos ’n misdadiger hanteer. Hulpeloos roep hy na God uit. Deur die verloop van die psalm sien ons baie duidelik hoe Dawid God se genade eerstehands beleef. So word ek en jy dan ook vandag verseker dat God se genade groter as ons vrese is. Vrees is ’n realiteit waarmee ek en jy moet saamleef. Maar God antwoord op ons vrese wanneer ons deur die geloof ons vertroue volkome op God stel.
GEBED
Here, ek is bekommer oor . . . wees my asseblief genadig en hou my vas.
AMEN