Van die begin af het gelowiges op verskillende maniere geloofstaal gebruik om hulle geloof en vetroue in God te probeer verwoord. Deur die geskiedenis het ons ’n klomp voorbeelde van hierdie pogings- of geloofsbelydenisse. In ons eie tradisie is ’n geloofsbelydenis ook ’n poging om iets wat ons verstaan van God in woorde te vertaal. Ek lees graag vir julle as ’n gebed ’n geloofsbelydenis van Lina Spies. Mag ons vandag ons eie geloofsbelydenis in ons harte skryf, mag dit ’n wordende woorde versameling wees van ’n God wat nie in woorde gereduseer kan word nie.
Geloofsbelydenis van ’n afvallige
Ek glo in die skeppende God
van die wordende heelal
wie se naam te heilig was
om uit te spreek:
Jahwe, die God van Israel,
wat ‘n vader geword het
vir Jesus van Nasaret,
die wonderskone boodskapper
van die onmoontlike liefde,
deur wie God my vader
maar ook my moeder is.
Ek glo in die Heilige Gees
wat mense in alle tye
inspireer tot werke
wat die stempel dra
van die ewige.
Ek glo dat omdat ek lewe
ek aan alle lewendes
sorg en deernis verskuldig is
en ek glo dat as ek sterf
ek opgeneem sal word
in die durende siklus
van vernuwing en verval
en dat die lewe triomfeer
in elke geboortekreet
omdat die lewe magtiger is
as die dood.
Lina Spies