Kolossense 1:23: “Maar dan moet julle vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie”.
’n Nuwe jaar is die tydperk waartydens die drie-deugde van ons geestelike lewe beklemtoon word. Geloof, hoop en liefde. Dit is veral die middelste waarde, “hoop”, waaraan ons vandag wil aandag gee.
Vader Raniero Cantalamesa, skryf oor hierdie drie hoekstene van ons Christelike lewe, Geloof, hoop en liefde. Hy sê dan dat hierdie drie geloofswaarhede soos drie susters is. Twee van hulle is volwasse en die ander een ’n klein kindjie. Hulle loop vorentoe, hand aan hand, met die klein kindjie “hoop” in die middel. Wanneer daar na hulle gekyk word, dan sou daar gedink word dit is die groter twee wat die kindjie, “hoop”, trek. Maar dit is eintlik anders om: Dit is die klein kindjie wat die twee volwassenes trek. Dit is hoop wat geloof en liefde vorentoe trek. Sonder hoop sal alles andersins stop. Hoop energeer ons vir die toekoms. Hoop sluit vir ons die toekoms oop, is verwant aan optimisme en ’n positiewe verwagting vir ’n positiewe tydperk.
In die voornemens wat ons vir die jaar 2021 maak, is om hoopvol te wees, van uiterste belang. Ons lewe in ’n hooplose wêreld. Die pandemie wat ons almal getref het, het baie mense se hoop in wanhoop verander. Dit is juis die oproep in hierdie gedeelte. Paulus sê dit ook vir mense wat dit moeilik het: “moenie die hoop verloor nie. Julle moet vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur dit wat julle gehoor het nie.”
Die evangelie, die goeie nuus van Jesus Christus, wat was, en is, en wat kom, trek ons vorentoe. Ons lewe in die hede, maar ons word ook geïnspireer deur ons toekoms, die toekoms waarop ons hoop gerig is. Die inhoud van die hoop is ook weereens die evangelie van God se teenwoordigheid by ons in alle omstandighede. Dit is met hierdie hoop waaraan ons kan vashou. Hierdie hoop is anders as die gewone wêreld se hoop wat maar net ’n sekere verwagting vir ’n sekere uitkoms is. Amper iets soos “ek hoop tog dinge werk uit”.
As volgelinge van Jesus Christus, is ons seker, en hoop ons vir die dinge wat ons nie sien nie, veral in 2021. Daar is baie hooploosheid rondom ons. Kom ons maak dit ‘n voorneme vir die jaar om draers van hoop te wees, selfs in die slegste omstandighede. Die hoop, wat vir ons gesetel is in ons verlosser Jesus Christus.
Gebed
Here, gee dat ek altyd sal vashou aan die hoop. Dat die slegte, negatiewe omstandighede nie die hoop van my sal vervreem nie, maar dat my hoop op U gevestig sal wees vir nou en vir die toekoms. Amen.