Gedagte vir die dag | Saterdag 22 Oktober 2022

Psalm 63:2  Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in ‘n dor en droë land, ‘n land sonder water.

Om dors te wees beteken vandag nie veel meer as om ’n kraan oop te draai of ’n ketel aan te skakel nie. Maar woestyne gee ’n ander betekenis aan dors. Warm son, min skaduwee, genadelose winde, nêrens ’n kraan om vir ’n bietjie water oop te draai nie. Nie net het ’n mens en dier dors nie, maar die aarde is ook dors. Elke druppeltjie vog word in woestyne opgeslurp om lewe vir ’n rukkie langer te kan behou. Alhoewel ons nie gereeld aan woestyntoestande blootgestel word nie, gebeur dit dat ons onsself soms in ons geestelike lewe in ’n woestyntyd bevind. Dawid was fisies en geestelik op so ’n woestyntyd in sy lewe.

Dawid was in groot gevaar en op ’n baie slegte plek in sy lewe. Hy was in die woestyn van Juda waar hy vlug vir sy eie seun Absalom. Wat doen Dawid in hierdie moeilike tyd in sy lewe? Hoe het hy hierdie situasie hanteer? Hy gaan na God.

Dawid het ’n diepe dors, ’n smagting en soeke na die lewende God juis in hierdie moeilike woestyntyd van sy lewe. Juis in hierdie dorre onherbergsame gebied smag Dawid se siel na geestelike water, na uitkoms en na God. In die woorde soos soek, dors en smag beklemtoon hy dat hy na God verlang. Ons hoor in hierdie woorde die eensaamheid, bangheid, angs en gevoelens van verwerping wat Dawid moontlik ervaar het tydens sy wegvlug. Hy is in die moeilikheid, sy lewe is in gevaar en hy beleef hierdie intense geestelike dors, hierdie soeke en verlange na God se teenwoordigheid.

Omtrent almal van ons het al so ’n “woestynervaring” soos Dawid beleef. Elkeen van ons worstel soms met teleurstellings en probleemtye. Tye van droogte en dorheid in ons lewens. Verskillende dinge in ons lewens kan ons laat voel dat ons in ’n woestyn is. Ons kan dit ervaar in tye van verlies, eensaamheid, siekte, finansiële nood of net twyfel oor God se teenwoordigheid.  Dit is tye waar ons heeltemal gestroop is van al die sekerhede waarop ons staatgemaak het. Wat doen ons as ons deur sulke tye gaan? Sulke woestyntye? Hoe het Dawid hierdie tye hanteer? Watter boodskap wil God vir ons kom gee uit Psalm 63.

Dawid gee ons raad vandag en dit is om in hierdie woestyntye na God te gaan. Om ons hoop op God te plaas. God sal jou nooit alleen los as jy tot Hom nader nie. Hy sal jou nooit alleen laat in die donker tye, of die groot woestyne van jou bestaan nie. God sal ons nie verlaat, of in die steek laat as ons tot Hom nader nie. Maak nie saak waar jy jou vandag bevind op jou lewenspad nie. Laat jou siel stil wees – die Here is by jou in hierdie woestyntyd. En Hy is ook altyd naby aan jou. Jy kan leef in sy teenwoordigheid. Hy is ook jou Vader en Versorger.

GEBED

Here, ek gaan tans deur ’n moeilike tyd in my lewe. Dit voel asof ek in ’n woestyn is. Wees my asseblief genadig en naby.

Amen