3 Johannes 1-3. “Van die oudste. Aan Gaius, my vriend, wat ek waarlik liefhet. Liewe Gaius, ek hoop dat jy gesond is en dat dit in alle opsigte so goed gaan met jou as wat dit geestelik met jou gaan. Ek was baie bly toe hier medegelowiges kom en van jou trou aan die waarheid vertel, hoe jy in die waarheid lewe.”
Hierdie teksvers staan blykbaar teen ’n muur van ’n kerk in Suid-Korea. Mense wat die kerk ingaan, lees dan die volgende woorde: Ek hoop dat jy gesond is, en dat dit in alle opsigte met jou so goed gaan, soos wat dit geestelik met jou gaan, m.a.w. dat dit met jou op emosionele en materiële gebied so goed met jou gaan soos dit geestelik met jou gaan. Die woorde “goed gaan” word in een Engelse Bybel vertaal met die woord “prosper” of ’n mens kan sê: om te floreer, en dan is dit die belofte wat gelowiges ontvang wanneer hulle die kerk binne gaan, dat dit met hulle land, hulself, hul godsdiens en sommer die hele pakkie sal goedgaan.
Dien God en jy floreer – kan mos ook ’n gevaarlike vorm van teologie wees. Daar is mense wat die teologie aanhang dat as jy die Here ken, dan gaan dit net goed met jou. Jy floreer finansieel en jou hele gesin en familie beleef net voorspoed. Maar dit is ’n baie gevaarlike teologie.
Dis bemoedigend om die positiewe nuus van die Christendom wat uitbrei, veral in Afrika, te hoor. In Afrika groei die kerk eintlik baie vinniger as in die res van die wêreld. Ons weet van die kwynende Christendom in veral Europa. Dit is bitter belangrik dat ons nie sal vergeet dat die timmerman van Nasaret arm was nie. Hy het nie materiële voorspoed gehad nie. Hy het, in sy eie woorde, nie eers ’n plek gehad om sy hoof neer te lê nie. En toe hulle na sy kruisiging sy liggaam moes weglê, was dit nie ’n verskriklike duur graf nie. Dit was in ’n geleende graf.
’n Toegewyde, Christelike lewe is nie ’n waarborg vir rykdom of welvaart nie. Al mag ons saam met Dawid ondervind, “ek kom niks kort nie”, Psalm 23:1 en 5. “Ek word oorlaai met hartlikheid.” Ons weet dat God se koninkryk nie in die eerste plek nie van hierdie wêreld is nie. Rosettie maak die stelling die ergste oomblik vir iemand wat nie in God glo nie, dié keer is wanneer hy werklik dankbaar is, maar niemand het om daarvoor te dank nie. Gelukkig kan jy as gelowige vir God dankie sê. Hoe klein of groot, jou welvaart ookal is, want vir jou het dit juis met ’n ander perspektief te doen.
Ek het so tyd gelede my huishulp, Mona tot by Phisantekraal geneem. Sy bly daar in ’n klein huisie op ‘n klein erfie, maar sy is so ongelooflik dankbaar vir hierdie klein plekkie in Phisantekraal en getuig dat die Here haar daagliks seën.
Die Here steek sy helpende hand uit na elke arme en werklose, maar ook na elkeen wat meer het. Die belofte is vir elkeen van ons, ook vir my en jou, Spreuke 19:17: “Wie hom oor ’n arm mens ontferm, gee ’n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed.”
Mag ons ook in hierdie tiendemaand tyd dankbaar wees vir wat die Here vir ons gee. Ons deel spesiaal kerse in die gemeente uit om ons aan ons seëninge en oorvloed te herrinner. Indien jy nog nie ’n kersie ontvang het nie, is jy welkom om een te kom afhaal by die kerk, of die kantoor, of jy kan een van die dominees kontak sodat ons vir jou een by jou huis kan afgee.
Mag jy floreer en nie vergeet om dankie te sê nie. Vers 2; “Geliefde, ek hoop dat jy gesond is, en dat dit in alle opsigte so goed met jou sal gaan, soos wat dit geestelik met jou gaan”.
Gebed:
Kindergebed: Liewe Vader, ek sê dankie vir die wêreld rondom my, want die hemel en die aarde het ons alles by U gekry. Liewe Vader, ek sê dankie vir al die blomme en diere rondom my, hulle het hul prag van U af gekry. Liewe Vader, ek se dankie vir al die mense rondom my, al my maaitjies en familie wat in liefde by my bly. Liewe Vader, ek sê dankie dat ek soveel van U af kry, maar die grootste is u liefde, wat ook in my hart kom bly. Amen.