Gedagte vir die dag | Saterdag 21 Mei 2022

Nadat ons die afgelope week bietjie gewandel het deur ’n hoofstuk in Numeri, glo ek, die woorde van Kaleb het ons sterk aangespreek, ook in die situasie waarin ons onsself in Suid-Afrika bevind. Met groot oortuiging, het ons gehoor, sê Kaleb tussen die koor van pessimiste: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kan dit doen!”

Daar is verskeie ander groot geloofsuitsprake in die Woord. Mense wat midde in hulle moeilike omstandighede vorentoe kyk, met hoop en oortuiging bekend maak dat hulle God ken en dat God die sleutels van die toekoms in Sy hand hou.

Dink maar aan Dawid, wat in geloof sê hy sal die reus aanpak. Dieselfde Dawid wat gesê het: “al storm 10 000 mans hom, nogtans sal hy bly glo, en vashou aan die God wat hy vertrou. Nehemia, nog ’n geloofsheld uit die Ou Testament se hart is gebreek oor sy land en tempel wat tot ruïnes verwoes is. Hy het egter nie net bly sit in sy depressie en swaarmoedigheid nie, hy het opgestaan en die bul by die horings gepak . . . gelyktydig gehuil en gebid en die koning gaan vra vir goedkeuring om na sy land terug te keer en om te begin met die ophou daarvan.

Ons ken die verhaal van Nehemia verder. Hierdie geloofsheld wat niks ontsien het om die eer van God te herstel en die tempel te herbou nie. Alhoewel alles teen hom was, en teen hulle as volk, het hy bly vashou aan die beloftes van God, en het hulle met die werk begin. Nadat hy hulle geïnspireer het, volg daar ook ’n aangrypende geloofsuitspraak deur ’n paar van sy volksgenote. Ons lees uit Nehemia 2:18: “Ek het hulle toe vertel hoe my God sy goeie hand oor my gehou het en wat die koning vir my gesê het. Hulle het gesê: “Kom ons bou!” en hulle het die goeie werk aangepak.”

Vers 20: “Ek het hulle geantwoord en vir hulle gesê: “Die God van die hemel sal ons laat slaag in wat ons doen. Ons, sy dienaars, gaan bou!”

Soos in Kaleb se situasie, moes hierdie geloofsvriende besluit: “Ons gaan nie in die hoekie bly sit en sanik oor die gebreekte toestand van ons land nie. Ons gaan in geloof begin met die werk, ons gaan begin bou!

Spreek dit ook tot jou hart soos dit tot my hart spreek? Ook ten opsigte van ons eie land, gemeenskappe en huise wat baie keer ook maar stukkende ruïnes is?  Dat ons ook met geloof ’n besluit kan neem om met oortuiging uit ons hoekie te kom, en  skouer aan die wiel sit, en om in geloof te begin herbou. Ons land het Kalebs nodig! Ons land het Nehemia’s nodig! Mense wat, omdat hulle vir God ken, en sy vermoëns ken, hande uit die moue steek en begin met die bouwerk aan ons gebreekte land en al die aspekte daarvan…. om dit weer tot eer van God te herstel.

Is jy ’n bouer? Of ’n wegkruiper vir wat rondom ons gebeur?

Gebed: Here, gee dat ek soos Nehemia op U vertrou, en begin met die broodnodige opbouwerk van die gebreekte omstandighede rondom my. Amen.